Gauteng-provinsie stel weer ‘n omstrede administrateur vir Emfuleni aan

2020-06-17
Me. Amanda de Lange

Die ANC se kader-ontplooiing in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) hou niks goeds in vir die munisipaliteit wat reeds gebuk gaan onder groot rioolprobleme, kragtekorte en feitlik geen dienslewering aan inwoners nie.

Die aanstelling van Willy Bhila, Gautengse adjunk-direkteur vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta) as die nuwe administrateur van die Emfuleni-munisipaliteit, is onder verdenking weens sy onwettige inmening by die Tshwane-metroraad.

Bhila het aan die einde van verlede jaar ‘n ongrondwetlik sitting van die Tshwane-metroraad oorgeneem om die speaker doelbewus uit haar stoel te verwyder.

Die besluit om die Tshwane-metroraad onder administrasie te plaas, was in opdrag van Bhila se senior, Lebongan Maile, LUR vir Cogta.

Bhila se voorganger as administrateur van Emfuleni, Oupa Nkoane, was eers die munisipale bestuurder van die munisipaliteit. Onder sy bestuur het drie uitvoerende burgemeesters gedien.

In dié tyd is uitstaande skuld van R3 miljard tot R6 miljard verhoog, riool het in die strate van woongebiede gestroom, die Vaalrivier is besoedel, vullisverwydering was sporadies, skuld aan Eskom en Rand Water beloop miljarde en die balju klop gereeld aan die munisipaliteit se deur om beslag te lê op die munisipaliteit se vloot voertuie, meubels en rekenaars.

Die Emfuleni-munisipaliteit kan nie bekostig dat omstrede en onbevoegde ANC-kaders die munisipaliteit bestuur nie. Die munisipaliteit kan reeds nie behoorlike dienste aan inwoners lewer nie en die vooruitsigte dat die skuldlas in die nabye toekoms gedelg gaan word, is uiters skraal.

Hierdie skuiwe deur Maile is polities gemotiveer en is weer ‘n bewys dat die ANC nie dorpe en stede in Gauteng kan bestuur tot voordeel van die inwoners nie.


Navrae: 071 604 9498

 

 

GautengAmandaDeLangeEmfuleniAdministrateur

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!