Flou houding van Ramaphosa oor onrus stel teleur

2021-07-12
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus sal enige poging steun om die huidige vlaag van anargistiese geweldpleging in die land te ontlont. Die party het egter ’n groot probleem daarmee dat president Cyril Ramaphosa telkens reaktief optree en nie pro-aktief nie.

Hy meld nou dat die land se onderskeie intelligensiestrukture van die polisie en die weermag op nasionale vlak sal saamwerk. Dit is nou te min te laat.

Hierdie dienste het totaal misluk ten spyte van al die voorafgaande tekens en waarskuwings sedert verlede Woensdag oor die situasie wat nou in die land ontvou.

Nog ’n voorbeeld is die feit dat die president in Mei verlede jaar laas met ander politieke leiers in die land gepraat het oor die ernstige probleme rondom die Covid-19-pandemie. Waarom nou eers weer, meer as ’n jaar later.

Die VF Plus doen ’n beroep op die president dat hy moet luister na wat politieke leiers en ander rolspelers te sê het om saam die land se probleme te bowe te kom.

Terwyl pres. Ramaphosa vanaand ’n flou houding ingeneem het oor die onrus wat op landwye anargie afstuur, het direkte beelde oor TV-stasies gewys hoe winkelsentrums gestroop word sonder ’n enkele lid van die weermag of die polisie op die toneel.

Dit laat ’n vraag ontstaan oor die staat die vermoë en erns om die situasie in KwaZulu-Natal en Gauteng te ontlont voordat dit na die res van land oorspoel. Daar sal vinnig en ferm opgetree moet word om dit wel te voorkom.

Die VF Plus vind dit ook uiters teleurstellend dat die president redes soos werkloosheid en armoede voorgehou het as moontlike verskoning vir grootskaalse plundery.

Dit is nie aanvaarbaar nie en die optrede van die oproermakers is niks anders nie as misdadigheid.

Die VF Plus wil sy beroep van vroeër vandag herhaal om kalm te bly en nie die reg in eie hande te neem nie.

 

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#ShutdownSA#Unrest

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!