Enorme korrupsie in munisipaliteite weereens belig deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE)

2020-03-03
Mnr. Michal Groenewald

‘n Voorlegging van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) aan die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het weereens die enorme omvang van staatskaping en korrupsie in plaaslike regerings beklemtoon.

Korrupsie-ondersoeke in verskeie munisipaliteite regoor die land, het reeds ongerymdhede ter waarde van meer as R1,7 miljard blootgelê.

Luidens die voorlegging is Gauteng (70 sake), die Oos-Kaap (42), en Limpopo (30) die provinsies waar die meeste ondersoeke gedoen word. Opmerklik is dat geen vordering in die Vrystaat gemaak is nie en slegs vordering met vier sake in Noordwes vermeld is.

Dit nou terwyl dit wyd bekend is dat munisipaliteite in hierdie provinsies bykans op hul knieë gedwing is deur korrupsie en bedrog wat toegelaat is in die bewindstermyne van Ace Magashule en Supra Mahumapelo onderskeidelik.

Die haglike stand van hierdie munisipaliteite noodsaak dat daar dringend ook op hierdie provinsies gefokus word om die plundering te stop en plaaslike regerings van korruptes te suiwer. ‘n Ligpunt is wel dat daar sedert 2017 ‘n merkbare toename in korrupsie-ondersoeke is en sake voor die hof gebring word.

Dit is onder meer toe te skryf aan groter formele samewerking tussen die SOE, die polisie, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die batebeslagleggingseenheid.

Die VF Plus het in die portefeuljekomitee voorgestel dat die Ouditeur-Generaal (OG) met sy nuwe uitgebreide magte as ‘n prioriteit ook by hierdie samewerkingsooreenkoms ingesluit word. Die OG het reeds uitgebreide data van finansiële ongerymdhede by munisipaliteite landswyd beskikbaar.

Hierdie data moet gebruik word om misdadige praktyke te identifiseer en ondersoeke te bespoedig. ล‰ Voorbeeld is waar die VF Plus reeds in Februarie 2018 formeel klagte teen die Matlosana-munisipaliteit in Noordwes ingedien het oor ongerymdhede wat in ‘n ouditverslag blootgelê is, maar nie eens deel gemaak het van die voorlegging deur die onderskeie funksionarisse nie.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen hierdie siniese plundering van belastingbetalers se geld en bates.


Kontaknommer: 079 409 8342

MunisipaliteiteMichalGroenewaldSOECoGTA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!