Emfuleni se onbeholpe bestuur van rioolpompstasies wys waarom die munisipaliteit in duie stort

2022-05-12
Gerda Senekal

Die VF Plus beskou die onbeholpe bestuur van die rioolpompstasies in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) as tekenend waarom dié munisipaliteit, wat onder ANC-beheer staan, in duie stort.

Een voorbeeld is die Westsidepark-rioolpompstasie waarvan die krag deur Eskom afgesny is weens ʼn agterstallige rekening van net R14 000.

Ten einde die probleem op te los, het Emfuleni ʼn sanitasievoertuig teen ʼn reuse koste van R200 000 gehuur om die riool gereeld uit te suig in stede daarvan om bloot die klein agterstallige bedrag verskuldig aan Eskom te betaal.

Daar kan dus net gewonder word of die reëling gemaak is om werklik die rioolprobleem in dié geval op te los en of dit oor die tender gaan wat uitgedeel is vir die huur van die sanitasievoertuig. Die VF Plus sal dit ondersoek.

Wat die situasie meer skreiend maak, is die feit dat die riool wat deur die Westsidepark-pompstasie hanteer moet word, nou in die Rietspruit inloop.

Die besoedeling van die Vaalrivier en omliggende riviere weens die ANC se wanbestuur van Emfuleni gaan dus onverstoord voort ten spyte van vorige ingrypings wat reeds plaasgevind het, soos die ontplooiing van die weermag om pompe te herstel en te beskerm.

Die openbare fondse wat so vermors word, kom van die Emfuleni-munisipaliteit en die nasionale fiskus.

ʼn Verdere voorbeeld van onbeholpe bestuur is dié van pompstasie 21 waarvan die pomp alreeds ʼn geruime tyd gelede gesteel is.

Alhoewel die pomp slegs R8000 kos, is daar nog geen poging aangewend om dit te vervang nie.

Die koste van die sanitasievoertuig wat nou gehuur word om die Westsidepark-pompstasie te diens, sou hier ook meer as genoeg gewees het om die gesteelde pomp te vervang.

Die riool wat deur pompstasie 21 hanteer moet word, word nou ook deel van die rioolstroom wat uiteindelik in die Rietspruit beland.

Dit is baie duidelik dat die ANC-regering in die Emfuleni-munisipaliteit geen gewete het as dit kom by sy verpligting om goeie diens te lewer soos voorgeskryf in die Grondwet nie en dat sy fokus eerder is op die uitdeel en ontvang van tenders.

 

 

GerdaSenekalRioolbesoedelingRioolwerkeEmfuleniMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!