Emfuleni se aangepaste begroting bring geen uitkoms

2019-06-06
Gerda Senekal

Die VF Plus twyfel of die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se aangepaste begroting die gebied van totale ondergang kan red.

Die munisipaliteit, wat dorpe soos Vereeniging, Vanderbijlpark en Sebokeng bedien, is reeds ʼn geruime tyd onder provinsiale administrasie ingevolge Artikel 139 (1) (b) en Artikel 139 (5) (a) van die Grondwet. Ingevolge die artikel word die provinsiale tesourie versoek om ʼn algehele herstelplan saam te stel wat die munisipaliteit in staat stel om basiese dienslewering en sy finansiële verpligtinge na te kom.

Die VF Plus het nie die begroting goedgekeur nie omdat daar min hoop is dat die munisipaliteit die voorgeskrewe provinsiale herstelprogram suksesvol sal kan uitvoer. Die party kan die begroting slegs goedkeur wanneer die begroting behoorlik befonds word en in lyn is met die geïntegreerde ontwikkelingsplan. Die voorgestelde herstelprogram moet ook doelgerig geïmplementeer word.

Die finansiële herstelplan identifiseer uitdagings wat die Emfuleni-munisipaliteit in die gesig staar en beveel wysigings en die hertoewysing van hulpbronne aan.

Een van die aanbevelings deur CoGTA (departement van samewerkende regering en tradisionele sake) is dat die aanwending van provinsiale befondsing aan die munisipaliteit deur die departement van water en sanitasie gebruik moet word om die langdurige rioolkrisis in die gebied op te los.

Emfuleni is in gebreke om sy finansiële verpligtinge na te kom te midde van ‘n aansienlike verswakking van die munisipaliteit se vermoë om behoorlike dienste te lewer.

Swak finansiële bestuur en kredietbeheer en toesig is aan die orde van die dag.

Onvoldoende herstelwerk en instandhouding aan bestaande infrastruktuur lei tot groot leemtes in dienslewering. Die nie-vervanging van verouderende infrastruktuur en die gebrek aan ‘n effektiewe en doeltreffende diensleweringsmodel, lei tot peperduur en omvattende uitkontraktering.

Swak kommunikasie met gemeenskappe en betrokke belanghebbendes veroorsaak onrus in die gemeenskap en kan groter werkloosheid veroorsaak.

Die volgende verhogings vir die 2019/20-finansiële jaar is goedgekeur:

Eiendomsbelasting – 5,2%
Elektrisiteit- 13,81%
Water - 7,9%
Sanitasie - 5,2%
Vullisverwydering - 0% (geen dienslewering vir 11 maande)
Basiese water - 5,2%

Die tariefverhogings is beslis geen goeie nuus vir die reeds gefrustreerde en swaar belaste inwoners van Emfuleni nie.

Die VF Plus is ‘n voorstander van kleiner munisipaliteite om so ‘n totale ineenstorting van basiese dienste in ‘n groot munisipale gebied te voorkom.


Kontaknommer: 076 616 2124


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!