Emfuleni-raadslede deur EMS en brandweer aangehou

2017-05-03
Gerda Senekal

Stakende nooddienspersoneel van die Emfuleni-munisipaliteit gee nie ʼn flenter om vir mense in nood nie. In stede om lewens te red, hou hulle hul besig met stakings waartydens kollegas, raadslede en selfs die burgemeester vir ure lank ‘gevange’ gehou is.

Volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni, het 36 stakende nooddienspersoneel verlede week gesorg dat amptenare en die publiek nie hul kantore kon verlaat nie. Die staking was glo omdat hulle nie vir agt ure se oortyd betaal is nie.

Rdl. Gerda Senekal, wat self deur die stakers aangehou is, vertel dat raadsvoertuie gebruik is om alle ingange te blokkeer. Personeel kon nie afsprake (medies of kinders by skole haal) nakom nie.

Burgemeester Simon Mofokeng is uiteindelik teen 11:38 toegelaat om die perseel te verlaat. Die res, waaronder raadslede, moes beswaardes se aggressiewe houding en rassistiese opmerkings vir ure lank verduur.

Rdl. Senekal, was tesame met lede van die burgemeesterskomitee en opposisiepartye deel van die onderhandelinge.

“Ek het die stakendes gevra wat gaan tydens ʼn noodsituasie gebeur. Hulle antwoord was doodeenvoudig - hulle gee nie ʼn flenter om nie. Ek is ook ‘n ‘white b#tch’, genoem.

“Daar is teen laatmiddag besluit om een van die palissade-panele los te maak sodat amptenare daardeur kon uitbeweeg. Die stakers het dit gesien en begin aggressief raak waarna die polisie moes ingegryp.

“Die VF Plus gaan daarop aandring dat die betrokke amptenare intern aangekla word. Hul indiensneming-voorwaardes bepaal nooddienspersoneel mag nie aan stakings deelneem nie. Insidente soos die skep ʼn presedent en ander departemente kan hul voorbeeld volg. Die VF Plus keur sulke gedrag ten sterkste af en sal dit nie duld nie,” het Senekal gesê.

 

076 616 2124
gertruidasenekal1@gmail.com

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!