Emfuleni-munisipaliteit skors sy derde munisipale bestuurder in die bestek van twee jaar

2020-09-15
Gerda Senekal

Die skorsing van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se munisipale bestuurder, Lucky Leseane, is ‘n bewys van die ANC se onvermoë om ‘n munisipaliteit suksesvol te bestuur.

Leseane, wat verlede week deur die Emfuleni-munisipaliteit geskors is, is die derde munisipale bestuurder wat uit sy pos onthef is sedert Junie 2018 nadat die Gauteng provinsiale regering dié munisipaliteit onder gedeeltelike administrasie geplaas het. Die ander twee wat die trekpas gekry het, was Collin Kekana en Oupa Nkoane.

Leseane se skorsing volg op klagte van voetslepery met die vervolging van bestuurders wat by onreëlmatige verslae betrokke is; geen ondersoek na ‘n onreëlmatige betaling van R190 miljoen aan ‘n versekeringsmakelaar-maatskappy; Covid-19-ongerymdhede met die aankoop van persoonlike beskermende toerusting; geen bewyse vir R35 miljoen se Covid-19-uitgawes en die goedkeuring van verhogings sonder ‘n raadsbesluit.

Die verhoging vir amptenare wat deur Leseane goedgekeur is, is gemiddeld 6,24% en voeg R112 miljoen meer by Emfuleni se salarisrekening.

Ironies genoeg is die raadslede se voorgestelde verhoging van 6.04% terugverwys omdat dit nie bekostigbaar is nie. Dit maak geen sin dat amptenare verhogings ontvang terwyl die raad onder gedeeltelike administrasie geplaas is en daar eerder besparings moet plaasvind nie.

Die VF Plus twyfel of die Gauteng-regering en die Emfuleni-munisipaliteit daarin gaan slaag om ‘n vierde munisipale bestuurder aan te stel wat die munisipaliteit uit bankrotskap, korrupsie en wanadministrasie kan red.

Die party stel voor dat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, kandidate se agtergrond en prestasies behoorlik moet navors om ‘n geskikte persoon te vind.

Die party sal die dissiplinêre proses van die munisipale bestuurder dophou om te verseker dat aanspreeklikheid en geregtigheid geskied.

Navrae: 076 616 2124

GerdaSenekalEmfuleniMunisipaleBestuurder

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!