Ekurhuleni-metro se beloftes is leeg

2019-06-12
Jennifer Glover

Die onvermoë van die Ekurhuleni-metroraad om die reuse kragonderbreking in Kempton Park te herstel, is nog ‘n bewys dat die metro instandhouding nie as ‘n prioriteit beskou nie.

Dit is onregverdig dat ‘n groot deel van huishoudings in Kempton Park, wat sedert Saterdag sonder elektrisiteit is, hieronder moet ly. Daar het niks gekom van die raad se beloftes om kragtoevoer teen Dinsdag te herstel nie.

Die VF Plus het al meer as een keer die burgemeester en sy komitee gevra om instandhoudingswerk as ‘n prioriteit te beskou, maar die versoek val telkens op dowe ore. Intussen gaan dienslewering drasties agteruit.

Die VF Plus vind die verduideliking van die metroraad se woordvoerder, Themba Gadebe, wat beweer kabeldiewe het die fout veroorsaak wat glo gelei het tot die brand by die Glen Marais-substasie, bedenklik. Daar is volgens inligting geen kabeldiefstalsaak deur die metro by die polisie aangemeld nie.

Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers so lank moet wag vir herstelwerk en intussen ly mense finansiële skade weens onder meer yskaste en vrieskaste wat nie funksioneer nie.

Die Ekurhuleni-metroraad sal sy bestuursvermoë moet opknap aangesien hy besig is om inwoners in die steek te laat.

Die VF Plus gaan die metroraad vra om te verduidelik hoekom hy leë beloftes aan inwoners maak en waarom die herstelproses so lank duur.


Kontaknommer: 072 217 1951

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!