Eksplorasie vir gas en olie langs die Wildekus: Veranderde omstandighede regverdig die herroep van omgewingstoestemming

2021-11-24
Dr. Wynand Boshoff

Die omstrede gas- en olie-eksplorasie waarmee die internasionale oliemaatskappy Shell eersdaags aan die Wildekus wil begin, behoort opnuut aan 'n omgewingsimpakstudie onderwerp te word. Toe die huidige goedkeuring in 2013 verleen is, was die departement van omgewingsake nie deel van die proses nie. Vandag sou dit wel nodig wees, terwyl ander toepaslike faktore ook intussen verander het.

Seismiese ondersoekmetodes om vas te stel of olie- en gasreserwes onder die seebodem teenwoordig is, klink skadeloos. Waarop dit neerkom, is dat 'n skip heen-en-weer oor 'n gebied van sowat sesduisend vierkante kilometer beweeg en kort-kort klankskote afvuur. Gespesialiseerde toerusting volg die beweging van klankgolwe en vorm 'n beeld van wat onder die seebodem aangaan. Dit beteken dat die gebied vir 'n tydperk van maande soos 'n slagveld sal klink.

Kundiges stem saam dat klank alle seelewe beïnvloed, van plankton tot groot seediere soos walvisse. Hoewel daar nog geen klinkklare verband tussen seismiese ondersoeke en die stranding van walvisse gelê is nie, is studies nie voldoende om die moontlikheid uit te skakel nie.

Verder is dit baie moeilik om die uitwerking op seelewe diep onder die watervlak, waar min of geen lig deurdring nie, te ondersoek. Wat wel bekend is, is dat diere op daardie diepte hoofsaaklik op hulle gehoor staatmaak om rigting te bepaal.

In 'n wêreld wat vir al sy energiebehoeftes van ru-olie en aardgas afhanklik sou wees, sou 'n risiko van hierdie aard moontlik regverdig kon word. Die werklikheid is dat hernubare energie, veral in die produksie van groen waterstof, groot belofte toon om die moderne ekonomie se afhanklikheid van fossielbrandstowwe te beëindig.

Tans is ‘n bewese voorraad ru-olie vir die wêreld na raming voldoende vir die volgende 47 jaar en aardgas vir nog 52 jaar. Die ontdekking van nuwe olie- en gasvelde het dus nie dieselfde dringendheid as selfs enkele dekades gelede nie.

Shell wil dus met seismiese eksplorasie begin, byna 9 jaar nadat die toestemming verkry is. Intussen het die regulatoriese omgewing verander in die sin dat toestemming nie net van die departement van minerale hulpbronne en energie vereis word nie, maar ook van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye.

Verder het die groter konteks van energievoorsiening en -vooruitsigte merkbaar verander.

Volgens die VF Plus is dit gevolglik van dwingende belang dat toestemming vir hierdie projek herroep word en opnuut aan ondersoek onderwerp word.

 

 

DrWynandBoshoffWildekus#ShellGasEksplorasie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!