Die rampbestuurportefeulje van die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit het 'n VF Plus-voorstel oor 'n bewusmakingsveldtog aangaande onwettige vullisstorting aanvaar.
Die VF Plus het versoek dat daar met die plaaslike munisipaliteite (Mbombela, Thaba Chweu, Bosbokrand en Nkomazi) hande geneem word om gesamentlik onwettige vullisstorting te bekamp.
Verminderde tot geen dienslewering lei uiteindelik tot onwettige vullisstorting. Dit word vererger deur 'n onverskillige benadering tot die omgewingsimpak daarvan.
Baie inwoners wil nie ook die terreinstortingsfooie aan die munisipaliteite betaal nie.
Die rampbestuursportefeulje het ooreengekom dat deurlopende veldtogte in samewerking met plaaslike munisipaliteite sal plaasvind om bewustheid te skep oor die gevolge van onwettige vullisstorting.
Die storting van onder meer gebruikte weggooidoeke, plastieksakke, sanitêre middels en ander nie-bioafbreekbare materiale is nie net onooglik nie, maar beland in groter waterbronne in die reënseisoen.
Swart plastiek-vullissakke sal aanvanklik aan arm inwoners geskenk word, wat die versameling van vullis vergemaklik.
Die VF Plus het die noodsaaklikheid van rugsteundienste aan munisipale bywettoepassers beklemtoon. Hulle kan slegs oortreders vervolg indien die plaaslike polisie saamwerk.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die departement toe te pas om te verseker dat die party se versoeke om ingryping 'n werklikheid word en hierdie plan so gou moontlik in werking gestel word.