Dubbele standaarde van ANC en EFF oor eNCA-verslaggewer verstom

2021-03-02
Dr Corné Mulder

Die dubbele standaarde van die ANC en die EFF oor die masker-voorval waarby ʼn joernalis van die tv-nuuskanaal eNCA betrokke was, is verstommend. Albei partye dring aan op optrede teen die nuuskanaal en die joernalis, Lyndsay Dentlinger.

Die VF Plus het vandag in ʼn brief aan die Speaker van die parlement gewys op onlangse onderhoude met die joernalis wat duidelik wys dat sy alle persone met wie sy onderhoude gevoer het, op dieselfde wyse behandel.

Ek het self op Donderdag 18 Februarie ʼn onderhoud met die betrokke joernalis voor die parlementsgebou gevoer ná president Cyril Ramaphosa se repliek op die debat oor sy staatsrede.

Ek wou my masker verwyder, maar me. Dentlinger het onmiddellik daarop aangedring dat ek dit terugplaas. Ek het die onderhoud gevoer met my masker op. So ook ander wit parlementslede soos Geordin Hill-Lewis en Natasha Mazzone van die DA.

Dit dui nie op rassistiese voorkeurbehandeling nie. Die gewraakte voorval moet gesien word in die lig van die geweldige druk waaronder veral tv-joernaliste tydens ʼn direkte nuusuitsending werk.

Die praktyk by sekere nuusstasies waar onderhoude op die parlementêre gronde gedoen word, soos byvoorbeeld SABC-nuus, is ook dat die persoon met wie die onderhoud gevoer word en die onderhoudvoerder nie maskers dra nie, maar sosiale afstand handhaaf en die mikrofoon reinig tussen onderhoude.

Die feit dat die ANC en die EFF ʼn rasse-insident probeer skep van die voorval waar swart parlementslede gevra is om hul maskers aan te hou terwyl dit nie met twee wit LP’s gedoen het nie, is daarom ʼn tragiese ontkenning van die werklikheid en wys dat dié partye uit hul pad sal gaan om rasse-onmin te skep.

Die rassistiese uitsprake en optrede van die EFF se leierskap en van sy lede is goed gedokumenteer en verskeie organisasies en politieke partye, onder meer die VF Plus, het al klagte hieroor by ʼn organisasie soos die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Die ANC diskrimineer op institusionele wyse openlik teen minderhede en die jongste voorbeeld is waar pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat sukkelende wit toerisme-ondernemings uitgesluit gaan word van die toerisme-ekwiteitsfonds om dié bedryf weer op die been te bring.

Die optrede van die ANC en die EFF om die joernalis te viktimiseer, is volgens die VF Plus duidelik onbillik en onaanvaarbaar.

 

EFFDrCornéMulderANCLyndsayDentlingereNCA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!