Dr. Pieter Mulder, VF Plus-LP, lig UNPO in oor situasie in SA

2017-05-11
Dr Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-parlementslid, gaan die naweek ʼn vergadering van die Onverteenwoordigde Nasies en Volkere (UNPO) in Brussel België bywoon.

UNPO se doelstellings as organisasie is die beskerming en bevordering van minderhede en inheemse groepe se regte. Daarom beywer die organisasie hom vir die bevordering van groep- en minderheidsregte asook vir selfbeskikking.

By die vergadering in Brussel gaan onder meer vir UNPO se kongres aan die einde van Junie in Edinburg by die Skotse parlement beplan word. Die Skotte eis tans ʼn referendum om meer outonomie en selfbeskikking vir Skotland vanaf Brittanje te verkry.

Volgens dr. Mulder het die VF Plus nog nooit beweer om namens alle Afrikaners by UNPO te praat soos sommige kritici beweer nie.

“Waar UNPO ʼn organisasie vir minderheids- en groepsregte asook selfbeskikking is, verteenwoordig ons die 170 000 ondersteuners wat by vorige verkiesings ons so ʼn mandaat gegee het. Dit verteenwoordig wel Loftus Versveld vier keer volgepak, wat meer is as wat meeste kritici kan sê,” volgens Mulder.

“Watter ander politieke party in die parlement is tans bereid is om in die buiteland die situasie van Afrikaanse universiteite en skole, plaasmoorde, regstellende aksie, kwotas en die rassistiese dubbele standaarde wat telkens in Suid-Afrika geld, te stel?” het dr. Mulder gevra.

In 2013 het die VF Plus saam met UNPO ʼn konferensie oor minderheidsregte in die Suid-Afrikaanse parlement aangebied. Die geleentheid is gebruik om UNPO se dagbestuur en hoofsekretaris volledig oor Suid-Afrika in te lig.

By die konferensie het dr. Mulder en sprekers soos prof Sitwala Imenda namens die Barotse minderheid in Zambië, Zenzile Khoisan namens die eerste nasies, Peter Marais namens die Bruinbemagtigingsbeweging, Jeroen Zandberg namens die Rehoboth Basters en ander sprekers opgetree.

Dr. Mulder is by die vorige kongres van UNPO op die presidensie van die organisasie verkies. Die presidensie tree op as ʼn dagbestuur tussen UNPO-kongresse. Die presidensie is ʼn liggaam wat bestaan uit die president en vise-president en nege ander UNPO-lede. Naas dr. Mulder van die VF Plus is leiers van onder andere die Iranse Kurde, leiers van Taiwan, van Tibet, van die Oromo in Afrika en van Wes-Papua ook op die presidensie.

 


Kontaknommers: 083 419 5403

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!