Dr. Nkosinathi Sishi nuwe direkteur-generaal vir hoër onderwys: VF Plus verwelkom stabiliteit, maar gevaarligte flikker

2021-10-06
Dr. Wynand Boshoff

Dr. Nkosinathi Sishi is as direkteur-generaal vir hoër onderwys aangestel nadat die vorige direkteur-generaal, mnr. Gwebikundla Qonde, op 23 Julie vanjaar geskors is.

Qonde het sy skorsing in die arbeidshof bestry, waar uitspraak teen hom op 7 September gevolg het.

Intussen was die departement onder die waarnemende leiding van die direkteur-generaal van die departement van wetenskap en innovasie, dr. Phil Mjara. Die VF Plus verwelkom die stabiliteit van 'n vaste aanstelling, maar sien ook waarskuwingsligte flikker.

Dr. Sishi se akademiese agtergrond is in die opvoedkunde en hy het ervaring in skool- en universiteitsonderrig. Hy het ook verskeie senior poste in die departement van hoër onderwys beklee - onder meer as adjunk-direkteur-generaal.

Die gevaarligte het egter betrekking op sy werksaamhede in die Passasierspooragentskap (Prasa), waar hy tot voor die nuwe aanstelling hoof uitvoerende beampte was. Daar was hy in omstredenheid gehul, omdat 'n groot infrastruktuurprojek aan die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika toegeken is, sonder om die vereiste verkrygingsprosedure te volg.

Sishi se eerste werkstermyn by hoër onderwys het met dr. Blade Nzimande se eerste termyn as minister van die departement saamgeval. Sy aanstelling by Prasa het in 2018 gevolg, nadat Nzimande minister van vervoer geword het. Nou volg hy Nzimande weer na hoër onderwys.

Wanneer 'n senior amptenaar saam met 'n minister beweeg, kan mens begryp dat mense wonder of die amptenaar weens sy bekwaamhede aangestel word, of as 'n lojale agterryer. Op papier het dr. Sishi die agtergrond om van sy nuwe pos 'n sukses te maak. Die onus rus op hom om skeptiese stemme met die gehalte van sy werk stil te maak.

Die VF Plus wens dr. Nkosinathi Sishi die beste in sy nuwe pos toe. Hy moet die voordeel van die twyfel gegee word, terwyl sy bestuur van die departement fyn dopgehou word.



 

DrWynandBoshoffHoërOnderwysDirekteurgeneraal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!