Dlamini-Zuma probeer land in siniese poging mislei met loodsing van “teenkorrupsie-forum vir munisipaliteite”

2022-09-21
Michal Groenewald

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), se uitsprake tydens die loodsing van ʼn “teenkorrupsie-forum vir munisipaliteite” is verstommend.

Dlamini-Zuma, wat reeds sedert 1994 in verskeie hoedanighede in die ANC-regering dien en selfs ʼn draai by die Afrika Unie (AU) as voorsitter gemaak het, het onder meer by die loodsing geïmpliseer dat die land se polisiëring- en vervolgingsowerhede die grootste blaam moet dra vir korrupsie in munisipaliteite, weens trae ondersoeke en vervolgings deur hierdie instansies.

Cogta het reeds in 2015 ʼn omvattende “anti-korrupsie strategie vir plaaslike regering” bekend gestel wat kennelik geen vrugte afgewerp het nie.

Die jongste poging om ʼn “forum” teen korrupsie in munisipaliteite te skep, klink meer soos die skepping van ʼn “whatsapp-groepie” vir uitgelese ANC-kaders in plaaslike regering.

Die feit is dat die ANC op alle regeringsvlakke telkens gehuiwer het, of selfs geweier het, om sekere sake te laat ondersoek weens politieke oorwegings.

Dit is skokkend dat die minister nou, na al die jare in regering, waar sy eerstehands die verval en korrupsie in die regering en staatsadministrasie aanskou het, poog om die blaam vir haar eie departement se tekortkominge op ander af te skuif.

Die redes vir die verval in munisipaliteite is voor die hand liggend, en is al by herhaling deur die VF Plus aan haar uitgewys.

Voortgesette kaderontplooiing onder die vaandel van regstellende aksie, met die meegaande korrupsie en stroping van munisipale fondse en bates, voortdurende politieke inmenging en voortslepende ANC-faksiegevegte, het munisipale dienslewering in die land bykans op sy knieë gedwing.

Die loodsing van net nog ʼn ANC-“anti-korrupsie-projek” is bloot ʼn uiters siniese poging van Dlamini-Zuma om enersyds die skuld vir haar departement se volgehoue mislukkings te verplaas en andersyds om Suid-Afrikaanse kiesers te mislei daaroor dat die regering wel hul belange op die hart dra.

Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.

MichalGroenewaldNkosazanaDlaminiZumaTeenkorrupsie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!