Die VF Plus het vandag sy aksieplan bekend gemaak om die ANC-regering se planne om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, stop te sit. Die aksieplan sal gevoer word onder die vaandel: SLAAN TERUG SA / FIGHT BACK SA. Die webadres is www.slaanterugsa.org.za.
Hier volg die aksieplan:
1. Inligtingsessies: Landwye inligtingsessies om openbare deelname aan te moedig en te koördineer. Die proses van grondwetwysiging en die implikasies van onteiening sonder vergoeding sal met verskeie organisasies, sakekamers en landbouverenigings bespreek word.
Soveel as moontlik voorleggings deur die burgerlike samelewing en individue moet tydens die openbare deelname-proses ingedien word om beswaar teen die voorgestelde grondwetwysiging aan te teken.
Suid-Afrikaners moet daarvan bewus gemaak word dat die voorgestelde wysiging alle Suid-Afrikaners se eiendomsreg, wat nie slegs die eienaars van landbougrond raak nie, sal wegneem en die ekonomie van Suid-Afrika sal vernietig.
2. Vergadering met president: Die VF Plus sal ʼn dringende ontmoeting met president Cyril Ramaphosa versoek en sal later ‘n griefskrif tesame met ‘n petisie aan hom oorhandig.
3. Petisie: Die petisie sal deel vorm van die openbare deelname-proses. Die petisie word landwyd versprei en is ook aanlyn beskikbaar by: www.slaanterugsa.org.za.
4. Optog: Beplan ‘n massabetoging vir Suid-Afrikaners om op te staan vir die beskerming van hul eiendomsreg.
5. Internasionalisering: Aktiewe skakeling met die Europese parlement, regerings, die Verenigde Nasies (VN) en ook deur middel van die VF Plus se lidmaatskap aan UNPO. Die leier van die VF Plus sal op 21 Maart na Europa vertrek vir verskeie vergaderings in hierdie verband. Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die VN se Verklaring oor Menseregte. Onteiening sonder vergoeding is ‘n oortreding van artikel 17 van hierdie verklaring.
6. Onteieningsfonds: ‘n Trustfonds word gestig en die VF Plus sal aktiewe fondswerwing doen om op strategiese tye regsaksies te befonds met betrekking tot die grondwetwysigingsproses en om grondeienaars by te staan indien daar grondgrype plaasvind.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216