Dit is skokkend dat oneerlike amptenare geld steel wat aangewend moet word om boere te help wat in groot nood verkeer weens stormskade en oorstromings.
Die VF Plus in Limpopo eis daarom in ʼn skrywe antwoorde van Limpopo se LUR vir landbou, mnr. Thabo Mokone, oor die sameswering van drie van sy departement se senior amptenare met vier kleinskaalse boere om R2 miljoen te steel tydens die vloede in 2013.
Luidens ’n verklaring wat die Valke Maandag (30 Januarie) uitgereik het, is vervalste fakture destyds ingedien om die boere te vergoed vir skade wat gely is weens erge vloede in die Vhembe-distrik.
Die eise is glo uitbetaal en met beamptes gedeel luidens ondersoekbevindings van die Valke se handelsmisdaadeenheid in 2020.
Dagvaardings is uitgereik en alle betrokkenes sal op 2 Maart in die handelshof op Polokwane (Pietersburg) verskyn.
Dit is duidelik dat ANC-amptenary hulp- en rampfondse beskou as ʼn oop beursie om te plunder, soos gesien is met die reuse bedrog rondom die Covid-19-rampfonds.
Hierdie tendens moet stopgesit word en die VF Plus sal daarom wil sien dat die swaarste straf moontlik aan die beskuldigdes opgelê word indien hulle skuldig bevind word.