Departement van binnelandse sake is op pad na nêrens

2022-05-24
Jaco Mulder

(Begrotingsdebat in parlement: Binnelandse sake)

Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, het in werklikheid vandag erken dat sy departement in die moeilikheid is en op 'n pad na nêrens is indien daar nie buitengewone maatreëls ingestel word nie.

Hierdie maatreëls is nie sigbaar nie en daar word ook nie daarvoor voorsiening gemaak in dié finansiële jaar nie.

Die departement is waarskynlik die grootste bydraer tot die skep van 'n gelyke samelewing in Suid-Afrika waar die nasie mekaar ontmoet en dieselfde swak diens moet trotseer.

By die departement se plaaslike takke ontmoet burgers met klein kinders, pensioenarisse, mense met groot motors, mense met geen motors, alle rasse en alle ouderdomme wat saam ure en dae moet staan en wag vir diens wat soms nie realiseer nie.

Wat is so ingewikkeld aan die verwerking, vervaardiging en uitreiking van ID-dokumente en paspoorte? As iets só eenvoudig nie effektief bestuur kan word nie, hoe wil die ANC 'n gesofistikeerde ekonomie en staat bestuur?

Die departement is veronderstel om die bewaarder, beskermer en verifieerder van die identiteit en status van burgers en ander persone wat in Suid-Afrika woonagtig is te wees en om immigrasie en die beweging van persone deur die hawens van binnekoms te beheer, te reguleer en te fasiliteer.

In Junie 2021 is in die staatskoerant aangekondig dat permanente verblyfpermit-aansoeke op 1 Januarie 2022 hervat nadat geen aansoeke verwerk is sedert Maart 2020 toe die Covid-19-ramptoestand aangekondig is nie

Hierdie opskorting het gewone permanente verblyf-aansoekers in limbo gelaat, met hul daaglikse lewens wat ontwrig is.

Verskeie aansoekers het selfs van so lank gelede as 2017 nog geen antwoord van die departement ontvang nie.

Die VF Plus ontvang daagliks versoeke van desperate aansoekers. Die agterstand in permanente verblyfpermit-aansoeke staan op meer as 33 700.

Swak grensbeheer en onwettige immigrasie veroorsaak ernstige uitdagings in die verskaffing van basiese dienste en tydelike noodverblyf.

Eskom se onvermoë om elektrisiteit te verskaf het ook 'n nadelige uitwerking op die vermoë van kantore van binnelandse sake en grensbeheer.

Verlede week moes motors en vragmotors vir etlike ure by die Nakop-grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië staan omdat daar geen brandstof vir die kragopwekkers was tydens beurtkrag nie.

Die departement het boonop ook die Grondwethof om uitstel gevra om die Verkiesingswetsontwerp te finaliseer omdat hy nie die sperdatum van 10 Junie 2022 om dit af te handel, gaan haal nie.

Net nog ʼn voorbeeld van die nienakoming van sy mandaat.

Dit is duidelik dat al maatreël wat die departement van binnelandse sake sal red, ʼn verandering van regering is.

Onder die ANC-regering sal binnelandse sake op sy ou trant voortsukkel. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.



 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!