Debat in parlement: Uitvoerende kunstenaars in Suid-Afrika verdien beter beskerming deur kopiereg

2018-12-05
Adv Anton Alberts

(Tweede Lesingsdebat: Kopiereg Wysigingswetsontwerp, en
Tweede Lesingsdebat: Wetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars)

Daar word gesê pres. Cyril Ramaphosa se rykdom is dubbel dié van Mick Jagger, een van die grootste rocksterre ooit. Terwyl dit Jagger 'n leeftyd geneem het om sy rykdom te versamel, het dit die president met sy politieke verbintenisse skaars twintig jaar geneem.

Indien die jong Cyril Ramaphosa besluit het om eerder sang as ʼn loopbaan te volg, sou hy vandag, met dieselfde werkywer en toewyding, waarskynlik glad nie ryk gewees het nie. Gewis nie naastenby so welaf soos hy vandag is nie.

Die punt is dat kopiereg outeurs (kunstenaars) meestal sukkel om ʼn bestaan te maak en baie hard moet werk en baie talent moet hê om bo uit te kom. Net ʼn handjievol werklik begaafdes kry dit reg om die boonste sport te bereik wat met rykdom gepaard gaan. Die meeste maak bloot ʼn bestaan, en daarom is dit belangrik om die eienaarskap van hul intellektuele eiendom te beskerm.

Die wetsontwerp doen dit nie. Daar is talle tekortkominge in die wetsontwerp, waarvan die belangrikste die verborge onteiening sonder vergoeding is wat geïmplementeer sal word deur die gebruik van die vae term ‘billike gebruik’ in die wet. Dit kan vertolk word soos dit elke persoon pas met die kunstenaar wat noodwendig aan die kortste ent sal trek.

Kunstenaars wat nie kan bekostig om te litigeer nie, sal magteloos staan teen uitbuiting van internasionale korporasies, soos Google en Facebook, wat hul sakemodelle bou op die aanbieding van gratis dienste en toegang tot kopieregprodute op hul internetplatforms.

Nie net kunstenaars sal benadeel word deur die "billike gebruik" nie, maar die hele ekonomie kan geraak word. Die Motion Pictures Association of America se lede - wat miljoene Amerikaanse dollars in Suid-Afrika se ekonomie belê, het ernstige bedenkinge oor die wetsontwerp.

In die komitee het die direkteur-generaal van die departement van kuns en kultuur ʼn dwarsklap na kopiereg-outeurs en gesê Google kan eerder in die land belê as filmprodusente onttrek. Die regering is dus bereid om huidige, gereelde Hollywood-beleggings vir onseker beleggings van Google, wat mag realiseer of nie, te ruil. Net dit maak die wetsontwerp irrasioneel. Die feit dat geen ekonomiese impakstudie gedoen is nie, beklemtoon dit.

Nog 'n fundamentele probleem is dat die wetsontwerp nie voldoen aan Suid-Afrika se internasionale regsverpligtinge ingevolge die Bern-Konvensie en die Ooreenkoms oor Handelsverwante Aspekte van Intellektuele Eiendomsreg nie.

Oor die algemeen is die wysigings streng, onwerkbaar en sal onvoorsiene gevolge hê. Miskien kan ek dit met 'n voorbeeld verduidelik. Groot filmmakers soos ʼn Steven Spielberg sal wegbly omdat hulle nie werklik die elemente wat in ʼn rolprent vervat is, soos die musiek en draaiboek, sal besit nie.

Die jong musikant Ramaphosa sou baie bekommerd hieroor wees. Sy musiek sal daarom waarskynlik nooit in die Spielberg-rolprent gebruik word nie en kan sonder enige betaling by wyse van 'billike gebruik' hom ontneem word.

Talle bekende skrywers soos Athol Fugard, Wilbur Smith, JM Coetzee, Breyten Breytenbach, Deon Meyer en ander het hul teenkanting in ʼn versoekskrif teen die wetsontwerp uitgespreek en die president moet kennis neem dat sy goedkeuring van die wetsontwerp ʼn uitgereikte hofstryd tot gevolg sal hê.

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars sluit hierby aan. Dit poog om beskerming te verleen aan kunstenaars in die oudio/visuele-omgewing, maar die konsep van ‘billike gebruik’ in hibriede vorm sal ook in hierdie geval enige goeie bedoelings van die wet wegkalwe.


Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!