DA-plan vir laekoste-behuising op gholfbane bedreig eiendomswaarde in alle munisipaliteite en metro’s onder DA-beheer

2021-10-06
Die Redaksie

Die DA se voorneme om laekoste-behuising in die Kaapstadse metro te vestig, onder meer op bestaande gholfbane, beteken dit kan ook in ander metro’s en munisipaliteite gedoen word waar die DA in beheer is.

Mnr. John Steenhuizen, leier van die DA, het luidens ’n berig in Netwerk24 in ’n onderhoud met die nuuskanaal Newzroom Afrika gesê hy het reeds opdrag aan Kaapstad se metroraad gegee om gholfbane vir behuising beskikbaar te stel aangesien daar ʼn “oorvloed” bane in die metro is.

Die VF Plus is bekommerd oor die feit dat die DA klaarblyklik nie die impak van hierdie besluit op die ekonomie, werkskepping en eiendomswaarde in ag neem nie.

Die stap sal verreikende gevolge inhou vir honderde mense van alle rasse wat vir hul lewensbestaan van gholfbane afhanklik is.

Daar sal 'n impak op eiendomswaarde in gebiede waar dié laekoste-behuising gevestig word wees. Die waarde van eiendomme in só ’n gebied sal oornag ingrypend verminder.

Hierdie besluit moet in ’n baie ernstige lig beskou word aangesien mnr. Steenhuizen as leier van die party wat in die Wes-Kaap en die Kaapstad-metro regeer, nie verkiesingsbeloftes kan maak sonder om dit na te kom nie.

Die VF Plus sal graag wil hoor watter gholfbane in die Kaapstad-metro as oorbodig beskou word en watter prosesse gevolg gaan word om dit te onteien en te ontwikkel.

Duisende klublede, werknemers en talle sake-ondernemings en kontrakteurs wat ’n inkomste uit gholfbane verdien en direk geraak kan word, en veral diegene wat eiendom in die omgewing van ’n gholfbaan besit, verdien om nie hieroor in die duister gehou te word nie.

Die VF Plus is van mening dat hierdie aangeleentheid ernstige gevolge vir gemeenskappe sal inhou wat getrou hul belastings en dienstegelde betaal om die stad se koffers aan te vul.

Die kwessie van beskikbare grond in die metro vir bekostigbare, of laekoste-behuising, het lank reeds ontaard in ’n moddergooiery tussen die DA en die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille en dit het klaarblyklik tot hierdie besluit gelei.

Die VF Plus sal hierdie proses ten sterkste teenstaan.



StadKaapstadLennitMaxJohnSteenhuizenGholfbane

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!