DA-dubbelpratery oor onteiening sonder vergoeding is oneerlik

2019-11-16
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus sal die eerste wees om ‘n voorlegging te doen en om alle stappe moontlik te neem om die ANC-regering te keer om Artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak aangesien dit beleggersvertroue in die land en sodoende die land se ekonomie, finaal oor die afgrond kan stoot.

Die DA erken vandag (Netwek24, Grond: Kernwaarde van Grondwet met wysiging ondermyn - DA: 16 November 2019) dat hy “nie enige voorlegging sal maak ten opsigte van die konsep-wysigingswetsontwerp” om die eiendomsklousule, Artikel 25, te wysig nie.

Dr. Annelie Lotriet, leier van die DA-koukus, mislei die publiek deur te sê deur nie op te tree nie sal Artikel 25 moontlik nie gewysig word nie.

Hierdie situasie is so ernstig dat die VF Plus moet wys op die misleiding hiervan. By die VF Plus bestaan geen twyfel hoegenaamd nie dat die beoogde wysiging aan die Grondwet op elke wyse moontlik teengestaan moet word en die party doen ‘n beroep op die publiek en ander belangegroepe om saam met hom hierteen te mobiliseer.

Die VF Plus het ook vandeesweek met die sitting van die parlementêre ad hoc-komitee wat gemoeid is met wysigings van die Grondwet, hom opnuut sterk uitgespreek teen die wysiging van die artikel.

Die parlement het reeds op 15 November 2018 ‘n resolusie aanvaar om die Grondwet in dié verband te verander.

Die DA se dr. Lotriet sê vandag ook sy steun “ondubbelsinnig ‘n wettige en grondwetlike proses van grondhervorming”, maar dat so ‘n proses moontlik is sonder om die Grondwet te verander.

Hierdie boodskappe is misleidend en speel na twee gehore. Aan die een kant word gesê deur nie op te tree nie is die regte optrede. Aan die ander kant kan die party later voor ‘n ander gehoor daarop aanspraak hy het niks gedoen om veranderinge aan die Grondwet te keer nie om onteiening wel moontlik te maak.

Hierdie aangeleentheid het die potensiaal om Suid-Afrika te vernietig. Die VF Plus sal daarom ondubbelsinnig veg teen enige verandering aan Artikel 25 van die Grondwet en teen onteiening sonder vergoeding.

Nie-optrede kom neer op direkte steun aan ‘n verandering aan Artikel 25.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

 

DrPieterGroenewaldArtikel25OnteieningSonderVergoeding

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!