Covid-19: ‘n Gemeenskaplike vyand wat verslaan moet word

2020-07-28
Die Redaksie

(Covid-19-debat in Noord-Kaapse wetgewer)

Dit is verstommend dat die koronavirus wat tans verwoesting saai, maar agt maande gelede geïdentifiseer is. Intussen is meer as 16 miljoen mense wêreldwyd daarmee besmet, waarvan 3 600 in die Noord-Kaap.

Dit is sowat 0,3% van die provinsie se bevolking, teenoor 1% in Gauteng en 1,3% in die Wes-Kaap. Die Noord-Kaap is in daardie opsig gelukkig.

Dit is opvallend hoe belangrik vyande vir die mensdom is. Van die grootste tegnologiese en ander deurbrake is gemaak wanneer bevolkings teen 'n gemeenskaplike vyand saamstaan.

Die koronavirus is 'n vyand wat nie kleur, rykdom of armoede ontsien nie. Dit het die lewe sodanig ontwrig dat ons gebruike gewoond geraak het wat 'n jaar gelede ondenkbaar was. Ons dra maskers, ons hou op rook en drink - of doen dit ten duurste - , groet mekaar nie meer met drukkies nie en kom nie in groot getalle bymekaar nie.

Terwyl die mens verskillende gewoontes gewoond kan raak, is dit nie moontlik om hongersnood gewoond te raak nie. Of die ekonomie gaan inkrimp, is nie 'n vraag nie, die vraag is met hoeveel. Dat werksgeleenthede in die slag gaan bly is nie te betwyfel nie, die vraag is net hoeveel. Dit beteken dat hongersnood 'n werklikheid in Suid-Afrika gaan word.

Suid-Afrikaners het twee gemeenskaplike vyande: Die koronavirus en ekonomiese ineenstorting onder die ANC. Net soos Covid-19 nie bestry kan word deur net na een deel van die bevolking te kyk nie, geld dieselfde vir die herbou van die ekonomie, asook onderwys en ander dienste wat moet herstel.

Dit is nie nou die tyd om persoonlike voordeel te soek nie, maar om die gemeenskaplike vyande te verslaan.


Navrae: ‪082 561 4668‬

NOORDKAAPDanieCoetzee#Covid19SouthAfrica

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!