Covid-19-krisis in Gauteng: ANC misbruik krisis en daarom moet die draak neergevel word

2020-09-15
Adv Anton Alberts

(Ledeverklaring in Gauteng-wetgewer)

Die VF Plus het vandag in 'n ledeverklaring die ANC daarvan beskuldig dat hy die Covid-19-krisis misbruik om 'n sosialistiese bestel te vestig en daarom die sosiale kontrak met die mense waaroor regeer word, verbreek het.

Die ANC se volstrekte weiering om wit ondernemings in Gauteng by te staan, al is meeste van hul werknemers swart, asook die verwysings van Gautengse ANC-LUR'e na die opvattings van die sosialistiese filosoof Amilcar Cabral dat die nuwe middelklas (in hierdie geval swart) moet selfmoord pleeg en hul voordele opgee, dien as bewys hiervan.

Die resultaat hiervan sal die skepping wees van 'n staat waar almal ewe arm is in totale afhanklikheid van die regering.

Die VF Plus het verder verwys na die filosoof Thomas Hobbes se siening van die staat as die Leviatan, wat 'n draak of slang voorstel.

Hierdie dier kan ingespan word om 'n groep mense te beskerm teen anargie deur middel van 'n sosiale kontrak. Aangesien die ANC nie meer in die belang van die breë publiek optree nie, het die Leviatan eerder verander in 'n monster wat onderdrukkend van aard is en verdien om neergevel te word.

Die ANC se mala fides is verder bewys deur die blatante ignorering van beleid wat bewysbaar werk in lande soos Suid-Korea, Singapoer en Mauritius. Dit is daarom duidelik dat die ANC roekeloos omgaan met Gauteng en finaal verslaan moet word met die verkiesings van 2021 en 2024.


Navrae: 082 391 3117

 

GautengAdvAntonAlbertsANC#Covid19SouthAfrica

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!