Die toename in misdaad in sekere gebiede in Gauteng is kommerwekkend veral gedurende ‘n staat van inperking.
Gedurende die naweek is meer as 800 mense in hegtenis geneem op aanklagte van moord, verkragting, roof, aanranding, kwaadwillige beskadiging van eiendom, die besit van dwelms en bestuur onder die invloed van alkohol.
Dit is onrusbarend dat huishoudelike geweld teen vroue en kinders gedurende die inperkingstydperk skerp styg.
Die waaksaamheid van die Gautengse verkeerspolisie het Maandagoggend tydens 'n roetine stop-en deursoek-operasie gelei tot die in hegtenisneming van twee mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.
Volgens mediaberigte het verkeersbeamptes twee mans in 'n swart Toyota Fortuner op die N12 naby die R558 by Bekkersdal, Westonaria, gestop. Verkeersbeamptes het die bestuurder gevra om sy bestuurslisensie te toon waarna hulle opgemerk het dat daar 'n polisie-identifikasiekaart in sy beursie is. Die beampte het die bestuurder en sy passasier gevra of hulle polisielede is waarop hulle beweer het dat hulle wel polisiebeamptes is.
Tydens nadere ondersoek het die verkeersbeamptes gevind daar is met die identifikasiekaarte gepeuter en dat dit vals is. Die twee mans is in hegtenis geneem en het gister verskyn in die Westonaria-landdroshof op klagtes van bedrog en die voordoen as polisiebeamptes.
Daar is verskeie gevalle aan die Wes-Rand waar misdadigers hulle as polisiebeamptes voordoen en by misdadige aktiwiteite betrokke is. Die VF Plus het die twee mans se inhegtenisneming verwelkom.
Polisie en verkeerspolisie is daagliks by stop-en-deursoek-operasies betrokke om misdaad wat gedurende die Covid-19-inperkingstydperk aan die toeneem is, te bekamp.
Selfs die aandklokreël ontmoedig of beperk misdadigers nie om misdaad te pleeg nie. Dit is ‘n onteenseglike bewys dat die wettelose tendens wat voor die staat van inperking gegeld het, onverpoos voortduur en in sommige gebiede aan die toeneem is.
Daar is min hoop dat die ANC-regering op dieselfde skaal daadwerklike pogings sal aanwend om misdaad in Suid-Afrika te bekamp as wat hulle tans doen om die koronavirus-pandemie te beperk.
Die VF Plus moedig gemeenskappe aan om enige misdadige bedrywighede in hul omgewing so gou moontlik by die polisie aan te meld. Dit is in almal se belang dat die publiek saamwerk om mekaar veilig te help hou in hierdie ongewone omstandighede.
Kontaknommer: 071 604 9498