Buurt- en plaaswagte moet dringend toegelaat word om weer te funksioneer

2020-04-14
Dr Pieter Groenewald

Die kommerwekkende toename in misdaad maak dit ‘n saak van dringendheid om buurt- en plaaswagte toe te laat om weer normaalweg te begin funksioneer om die polisie se hand te sterk in die bestryding van misdaad.

Die VF Plus het vandag hierdie versoek in ʼn skrywe aan president Cyril Ramaphosa gerig aan die hand van die president se weeklikse nuusbrief waarin hy sy kommer oor misdaad uitspreek.

Dit is vir die VF Plus onverstaanbaar dat die minister van polisie, Bheki Cele, nie buurt- en plaaswagte se hulp wil aanvaar nie terwyl hulle die oë en ore van die polisie is en daar ‘n goeie werksverhouding tussen hulle en die polisie bestaan.

Die regulasies maak voorsiening vir formele sekuriteitsmaatskappye maar nie vir buurt- en plaaswagte nie en daarom versoek die VF Plus dat die regulasies in hierdie opsig aangepas en gewysig word.

Daar heers ook groot kommer oor die skerp toename in gevalle waar skole geplunder word en die 55 voorvalle net in Gauteng getuig hiervan. Volgens die minister van onderwys, Angie Motshekga, is daar al 78 gevalle landswyd.

Die VF Plus is ook bekommerd oor ʼn moontlike toename in plaasaanvalle aangesien landelike beveiligingstrukture of plaaswagte ʼn groot voorkomingsrol hierin speel en dit moeilik maak vir aanvallers en misdadigers om sonder meer van ʼn misdaadtoneel te ontvlug.

Daar is reeds ‘n toename in veediefstal en die diefstal van veral graanprodukte wat nog steeds op die lande staan.

Baie van die polisie se energie en tyd word opgeneem in die toepassing van die maatreëls om die verspreiding van die korona-virus te voorkom. Die polisie het daarom al die hulp nodig wat hulle kan kry en die VF Plus het pres. Ramaphosa versoek om dringend hieraan aandag te skenk.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

MisdaadPolisieDrPieterGroenewald#Covid19SouthAfrica#LockDownSouthAfrica#BuurtEnPlaaswagte

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!