Burgemeester van Mogale City weier VF Plus en inwoner ʼn spreukbeurt

2023-05-26
Amy Steyn

Die VF Plus in Krugersdorp sal nie toelaat dat die nuut aangestelde burgemeester van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit, Danny Thupane, slegs ʼn geselekteerde groep uit die gemeenskap toelaat om vrae oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te vra nie.

Tydens ʼn vergadering oor die GOP in die Krugersdorp-stadsaal, het ʼn VF Plus-raadslid, wat ook ʼn inwoner van Krugersdorp is, aangedui dat sy ʼn vraag aan Thupane wou stel.

Thupane het geweier om die vrae aan te hoor omdat sy ʼn raadslid is en beveel om die vertrek te verlaat.

Die VF Plus wou by die burgemeester weet wanneer die 13 stukkende rioolpompstasies in Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) herstel gaan word om rioolstortings te verminder.

Slegs vier rioolpompstasies in Mogale City is in ʼn werkende toestand.

Die party wou ook weet hoekom Krugersdorp nie soos aangrensende gebiede oor ʼn spesiale voertuig beskik wat rioolverstoppings ontblok nie.

Krugersdorp-Noord ondervind geweldige rioolprobleme en ʼn voertuig waar lug en water in verstopte pype ingeblaas word, is noodsaaklik.

So ʼn voertuig bespoedig die werksprosesse en kan rioolbesoedeling voorkom.

Die party het ʼn brief aan Thupane gerig om te verduidelik waarom ʼn raadslid, wat ook ʼn inwoner is, nie toegelaat word om vrae te stel nie.

Die VF Plus verteenwoordig sy kiesers en sal nie toelaat dat die ANC-alliansie sy demokratiese regte skend nie.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!