Brande teister Noord-Kaap: Deeglike ondersoek na bewerings van brandstigting is noodsaaklik

2021-09-28
Dr. Wynand Boshoff

In die dorre Noord-Kaapprovinsie is daar gewoonlik te min gras om ernstige veldbrande te voed. Hierdie jaar is anders. Ná die goeie najaarsreën van die vorige seisoen, gaan die noorde van die provinsie oor die laaste weke onder ernstige en wydverspreide brande gebuk.

Die vraag is egter of dit net die gevolg van natuurlike oorsake is en of brandstigting betrokke is. Die VF Plus versoek daarom die polisie om 'n deurtastende ondersoek hieroor te doen met die hulp van georganiseerde landbou en ander organisasies wat grondeienaars met veiligheidsake help.

Daar word uitgebreid oor die afgelope dae se brande verslag gedoen aangesien dit die provinsiale hoofstad, Kimberley, aan drie kante omring het.

Die N12- en N8-hoofroetes moes ook by tye gesluit word. In vorige weke het net sulke ernstige brande in ander, meer yl bevolkte dele van die provinsie gewoed. Die sogenaamde "Ghaapse Berg" het vanaf Koopmansfontein by Daniëlskuil tot naby Kuruman gebrand.

In ander dele van die land mag hierdie name net na romantiese plekname in 'n afgeleë deel van die land klink, maar vir die mense wat daar woon, is dit hul enigste tuiste. Indien dit nie binnekort reën nie, kan een ramp boonop tot 'n volgende een lei.

Vir inwoners van die gebied is die vraag of hierdie bloot die gevolg is van geil plantegroei wat deur die winter uitgedroog en sterk winde; en of gemenespel betrokke is. Grondbesit is 'n plofbare saak in vandag se politieke konteks. Die vraag word openlik gevra of hierdie 'n poging is om mense van hul grond te dryf.

Hoewel die landbougemeenskap en selfs ander mense wat glad nie boer nie, goed georganiseerd is, is dit onmoontlik om die duisende kilometer veld wat aan paaie grens, te bewaak, en misdadige elemente weet dit.

Daarom is dit noodsaaklik dat die polisie alle beskikbare bronne gebruik om vas te stel wat besig is om te gebeur. Dit sluit inligting van informante in, maar ook beeldmateriaal van private veiligheidstrukture op plase.

 

DrWynandBoshoffKimberleyNoordKaapBrande

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!