Bob van Reenen-sportstadion monument vir ANC-wanbestuur

2020-06-24
Me. Amanda de Lange

Die ANC in Gauteng is oneerlik as hy sê daar is planne om die Bob van Reenen-sportstadion in Krugersdorp te restoureer aangesien geen bedrag uit die 2020/21-begroting daaraan toegewys is nie.

Die stadion het ter sprake gekom tydens die begrotingsdebat vir sport in die Gautengse wetgewer. Die LUR vir sport, kuns en kultuur, Mbali Hlophe, het op ‘n vraag van die VF Plus gesê dit word oorweeg om dié eens glorieryke sportbaken te restoureer vir die gebruik van skole en die gemeenskap.

Die sportkompleks, wat sportsoorte soos atletiek, rugby, fietsrenne, boks, stoei, karate en gimnastiek aangebied het, is so erg verniel dat dit volgens die VF Plus waarskynlik 'n paar honderd miljoen rand sal kos om dit weer bruikbaar te maak. Die tartanbaan sal ten volle vervang moet word, wat sekerlik die duurste item sal wees.

Die stadion is meer as twintig jaar gelede gedeeltelik gesloop om plek te maak vir ‘n nuwe sokkerstadion wat as tuisveld vir die Kaizer Chiefs-klub sou dien. Daar is egter nooit met die bouwerk begin nie.

Jare se beloftes en ondernemings hieroor deur Mogale City asook die Gauteng-provinsie op niks uitgeloop nie.

Die agteruitgang van die stadion het begin by die eertydse burgemeester van Mogale City, Lentswe Mokgatle. Onder hom, sy opvolgers en ander provinsiale politieke ampslui, is miljoene rande wat vir die herstelwerk aangewys is, nooit bestee nie.

Mogale City sowel as die Gauteng-provinsie het in hul 2014/15-begrotings fondse vir opknapping bewillig. ‘n Bedrag van R314 miljoen is deur die provinsiale departement van sport uit sy begroting toegeken om die stadion se kleedkamers op te knap.

Kort nadat die werk afgehandel is, is al die wasbakke, toilette en storte geplunder en net leë kleedkamers is agtergelaat. ‘n Transformator is ook aangekoop, maar het nie die vermoë gehad om die hele stadion van krag te voorsien nie. Die transformator is later verwyder.

Die VF Plus het in 2015 'n besoek gebring aan die destydse LUR vir sport, kuns en kultuur, Lebogang Maile, asook aan die voormalige premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, om oor die stadion te praat. Beide was vol beloftes en ondernemings om die stadion op te knap, maar daar niks van gekom nie en die miljoene rand wat daarvoor begroot is, het tussen neus en ore verdwyn.

Die sportstadion is deesdae ‘n hartseer vervalle monument vir ANC-korrupsie, wanbestuur en leë beloftes van amper twee dekades.

Die VF het ‘n skriftelike vraag gerig aan die premier, David Makhura, om verslag te doen oor die finansiële wanbestuur deur ANC-politici en amptenare wat betrokke was by die herstel en herontwikkeling van die stadion.


Navrae: 071 604 9498

AmandaDeLangeKrugersdorpBobVanReenenStadion

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!