Bloemfontein-water: Mlamleli kan nie langer wegkruip nie

2019-09-12
Armand Cloete

Die VF Plus dring daarop aan dat die burgemeester van die Mangaung-metro-munisipaliteit, Olly Mlamleli, teenwoordig moet wees wanneer die nasionale raad van provinsies (NRP) aanstaande week oorsig in die Vrystaat doen.

In ‘n brief aan die Vrystaatse sweep van die Vrystaatse afgevaardiges van die NRP, Itumeleng Ntsube, eis die VF Plus dat Mlamleli haar munisipaliteit self verteenwoordig wanneer die metro verslag lewer.

Die NRP het ‘n grondwetlike mandaat en verantwoordelikheid om oorsig oor provinsiale en munisipale aangeleenthede te doen. Die burgemeester is dus grondwetlik verplig om haarself vir die NRP se oorsigbesoek beskikbaar te stel.

Mlamleli, wat in die verlede oorsigvergaderings in die Vrystaatse wetgewer verontagsaam het, kan nie aanhou wegkruip nie.

Mangaung het ernstige diensleweringprobleme waarvoor Mlamleli en die ANC-raad eenvoudig nie oplossings bied nie.

Die voortslepende dispuut tussen die metro en sy waterverskaffer, Bloemwater, benadeel betalende inwoners wat gyselaar gehou word weens ‘n gebrek aan politieke verantwoordbaarheid.

Oorsig oor Mangaung sal net sinvol wees indien die burgemeester teenwoordig is. Die VF Plus sal aanhou om die ANC verantwoordbaar te hou en terug te slaan teen die ANC se gebrek aan politieke wil.


Kontaknommer: 076 629 6219

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!