Bloemendal-steenkoolmyn: mense kan nou appelleer

2019-11-28
Mari Boshoff

Die VF Plus doen ‘n beroep op die Nigel-gemeenskap om voor 9 Desember vanjaar ʼn appèl-aansoek teen die oprigting van ʼn oopgroef-steenkoolmyn te ondersteun. Skrywes kan aan die departement van mineralebronne gerig word en moet hulle voor 9 Desember bereik.

Die departement het ondanks die teenkanting van boere en omgewingskundiges, die geïntegreerde omgewingsplan vir die myn goedgekeur.

Die gemeenskap voer aan die Bloemendalmyn kan nie goedgekeur word nie omdat mynaktiwiteite waterbronne wat die vlei en waterpanne voed, sal vernietig. Die myn val ook in die Nigel-landbounode waar veral opkomende boere gewasse verbou wat deel vorm van die voedselmandjie van Gauteng.

‘n Groot gebied van die myn sal die Blesbokspruit en gewilde Marievale Ramsar-bewaringsgebied insluit waar skaars voëlspesies en skoenlappers voorkom.

Inwoners is ook bekommerd omdat die myn op dolomitiese gebied opgerig word en wanneer water uitgepomp word om steenkool te ontgin, kan sinkgate inval.

Mense word uitgenooi om skriftelike besware by die kantore van die departement van miniralebronne, Environmental House, hoek van Steve Biko- en Soutpansbergstraat, Arcadia, Pretoria, in te handig.

Goeie nuus vir die omgewing is die departement van mineralebronne se afkeur van ʼn steenkoolmyn op gedeeltes van die plase Vischuil, Bosmanskop, Leeuwkop, Winterhoek en Honingfontein buite Heidelberg.

Die aansoek is afgekeur na ‘n openbare deelnameproses waar redes aangevoer is rondom die kritiese ekologiese sensitiewe area waar die myn opgerig sou word, die belangrike biodiversiteit rondom die bewaringsgebiede, botsende mynregte en grondeise.

Die VF Plus in Heidelberg het boere bygestaan en vele vergaderings bygewoon om mynbase te help oorreed om nie ‘n steenkoolaanleg in die gebied te vestig nie.

Die party sal aanhou veg teen mynhuise wat ten koste van landbou en omgewingsbewaring myne wil oprig waar dit nie werklik noodsaaklik is nie. Die party is nie teen ontwikkeling gekant nie, maar die gemeenskap moet ook in die besluitneming teken word.

 

Kontaknommer: 072 547 0481

MariBoshoffHeidelbergMyneSteenkoolmynNigel

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!