(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van minerale hulpbronne en energie)
Die ekonomiese krisis wat deur die nasionale staat van inperking verdiep is, dwing die departement van minerale hulpbronne en energie om meer as vyftien persent van sy begroting (R1,5 miljard) te besnoei. Die prys hiervan gaan deur die land se armstes betaal word, wat maatskaplike - en politieke spanning net sal verhoog.
Hierdie departement, wat eintlik vir beleid en regulering in die mynbou- en energiesektore verantwoordelik is, bestee meer as helfte van sy begroting (sowat R5 miljard) aan projekte wat hy nie aan die mark wil toevertrou nie - juis omdat dit mense bevoordeel wat uit die siklus van armoede gered moet word.
Dit gaan veral oor die elektrifisering van landelike behuisingseenhede en die verhoging van munisipaliteite se energiedoeltreffendheid - juis om die besparings vir dienslewering vry te stel.
Dit is uit hierdie deel van die begroting wat die departement meer as R1,5 miljard moet besnoei. Dit beteken dat sowat 43 000 huishoudings langer vir elektrisiteit moet wag. Boonop is daar geen waarborg dat die ekonomie genoegsaam sal herstel dat dit later beter sal gaan nie.
Intussen het mynbou nog nie weer die vlakke bereik waar dit in 2007 was nie en die land gaan onder beurtkrag gebuk. Die departement formuleer sy doel om minerale vir transformasie, groei en ontwikkeling te reguleer, en dit deur beleid en regulering in die energiesektor so aan te wend dat bekostigbare en betroubare krag vir almal beskikbaar is.
Dit beteken dat die departement van minerale en energie nie aan sy selfgestelde doel kan voldoen nie. Gesinne en gemeenskappe word gedwing om die verantwoordelikheid vir energievoorsiening in eie hande te neem.
Dit is 'n realistiese moontlikheid, aangesien die model van grootskaalse, gesentraliseerde kragopwekking in ekologies skadelike kragsentrales toenemend deur gedesentraliseerde slim netwerke verplaas word.
Terwyl die regulatoriese - en beleidmakende rol van die departement noodsaaklik is, is die onus op die departement om relevant en op datum te bly.
Navrae: 074 166 5540