Beplande vlagpaal van R22 miljoen wys hoe verkeerd departement se prioriteite is

2022-05-12
Heloïse Denner

(Parlementêre begrotingsdebat: Departement van sport, kuns en kultuur)

Wanneer ʼn nasionale staatsdepartement wat mank gaan aan fondse beplan om ʼn vlagpaal van 100m hoog teen R22 miljoen op te rig, is dit duidelik hoe verkeerd sy prioriteite is.

Dit wys ook waarom die departement van sport, kuns en kultuur, wie se primêre doel nasiebou is, hoegenaamd nie hierin slaag nie en waarom hy eerder uitsluit, marginaliseer, diskrimineer, verkleineer, verneder en wanbestee.

Op papier klink die departement se mikpunte vir die 2022/23-finansiële jaar edel: Nasiebou deur sport en die ontwikkeling van kuns onder voorheen benadeeldes deur onder meer die oprigting van nuwe teaters.

Die ironie is egter dat bestaande geriewe soos die uitvoerende kunstesentrum van die Vrystaat (Pacofs) besig is om totaal te verval.

Net so op sportgebied waar die plan is om professionele sport te stu deur die ontwikkeling van talent op grondvlak in alle gemeenskappe deur die optimale aanwending van hulpbronne.

Covid-19 het egter by herhaling gewys wie bevoordeel is deur veral geldelike hulpbronne terwyl die minister, Nathi Mthethwa, die vlamme van verdeling aanblaas deur te insinueer dat die Afrikanererfenis in totaliteit boos is.

Die bevordering van nasionale simbole en erfenisterreine om sosiale kohesie en nasiebou te bevorder, is ook op die departement se agenda.

Dit blyk dat die mikpunt hier hoog gestel word. ʼn Hoogte van 100m om presies te wees. En teen ʼn geraamde koste van R22 miljoen. Dit is wat die beplande vlagpaal om die landsvlag te vertoon, belastingbetalers gaan kos.

Die VF Plus het telkens in die verlede verwys na die verkeerde prioriteite van die departement. Hierdie moet die toppunt daarvan wees.

Hoe dié vlagpaal trots en nasiebou moet aanvuur onder werklose, honger en moedelose mense, is ʼn raaisel.

Dit is eweneens ʼn klap in die gesig van duisende kunstenaars wat hard getref is tydens die pandemie en ʼn desperate stryd om oorlewing moes voer.

Slegs krummels van die R300 miljoen hulppakket wat kunstenaars deur hierdie tyd moes dra, het hulle bereik. Die res het in die sakke van korrupte kaders beland. Dit is ʼn skande.

Voorts word die stok van eiegeregtige rassisme-oordeel maklik uitgepluk om prominente wit sportlui mee by te kom sonder om vooraf deeglike en redelike ondersoek te doen.

Die finansiële en emosionele skade van sulke onbewysbare aantygings is onmeetbaar, ook aan die departement se eie doelwitte van nasiebou en sosiale kohesie.

Net soos die nasionale regering, is hierdie departement ʼn totale mislukking. Suid-Afrika en sy mense verdien beter.



 

HeloiseDennerSportKunsKultuurVlagpaal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!