Bek-en-klouseer versprei in Limpopo

2020-01-28
Marcelle Maritz

Die VF Plus het met skok verneem dat die departement van landbou bekend gemaak het dat die besmette bek-en-klouseer-gebiede in Limpopo tot 16 gestyg het.

Die VF Plus het in November ‘n skrywe gerig aan die LUR van landbou, Nanda Annah Ndalane, en hom versoek om 'n dringende vergadering oor die aangeleentheid. Tot nou toe het hy nie geantwoord nie.

Die bek-en-klouseer-uitbraak het 'n baie groot invloed op die landbou- en ekonomiese sektore in Limpopo. Dit laat die LUR oënskynlik koud. Die VF Plus het aanvaar dat die departement in enige vorm van hulp om die uitbraak te bekamp, sal belangstel.

Hierdie houding dui daarop dat daar nie dringende en voldoende optrede was om die uitbraak te bekamp nie en die gevolg is dat die siekte in Januarie 2020 verder versprei het.

Dit is weereens ‘n bewys dat daar geen politieke wil by die ANC-regering is om die gemeenskap tydens krisisse, soos met die uitbreek van bek-en-klouseer en droogte, by te staan of op te tree nie.


Kontaknommer: 066 024 4623

 

MarcelleMaritzLimpopoBek-en-klouseer

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!