Begroting: Gesonde beginsels nodig om ekonomie weer aan die gang te kry

2021-02-23
Wouter Wessels

Môre se begroting is van die allergrootste belang om Suid-Afrika weer op ʼn pad van ekonomiese groei en herstel te plaas na die vernietigende effek van ANC-beleid en meer onlangs die Covid-19-inperking wat elke persoon in die land direk raak.

Die VF Plus sal daarom onder meer wil hoor dat belastingverligting aangekondig word vir individue en sake-ondernemings om ekonomiese groei te stimuleer. Dit is die enigste manier om vordering te maak met ekonomiese herstel.

Aansluitend hierby moet privaat besteding gestimuleer word om groei te bewerkstellig wat tot werkskepping sal lei.

Wat die VF Plus nie wil sien nie, is enige verdere reddingsboeie aan staatsondernemings. Die tyd het aangebreek dat onvolhoubare staatsondernemings nou gesluit of geprivatiseer word.

Verdere staatsbesteding op luukshede is nie aanvaarbaar nie en werkbare meganismes om staatsuitgawes te bespaar, moet deel van die begroting wees.

Die staat se onvolhoubare salarisrekening moet onder beheer gebring word. Dit moet egter gedoen word terwyl noodsaaklike en kritiek belangrike vakante poste steeds gevul word sodat dienslewering kan plaasvind.

Daadwerklike strukturele hervormings sal deel van die minister se toespraak moet wees.

Dit sluit in die aanspreek van die energiekrisis, belastinghervorming, die afskaffing van administratiewe rompslomp wat dit bemoeilik om sake te bedryf, of om ondernemings te begin en/of uit te brei.

Infrastruktuurbesteding is belangrik vir ekonomiese ontwikkeling, insluitend besteding op waterinfrastruktuur.

Tariewe en belastings soos die suikerbelasting moet in hierdie stadium afgeskaf word

Suid-Afrika kan onder geen omstandighede enige vorm van welvaartbelasting bekostig nie. Dit gaan veroorsaak dat professionele persone hul geld uit die land neem.

Suid-Afrika sit met reuse skuld, veral by staatsondernemings. Geen plan of strategie sal dit laat verdwyn nie en iets soos verhoogde belastings sal die probleem vererger.

Net gesonde ekonomiese beginsels sonder onnodige staatsinmenging, korrupsie en vermorsing, sal die land ekonomies weer ophef.

 

WouterWesselsEkonomieBegroting2021Budget2021

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!