Begroting 2020: ‘n Virus met die naam ANC het ekonomie lank reeds terminaal gelaat

2020-06-12
Wouter Wessels

(Parlementêre debat oor Begrotingswetsontwerp)

Die naam van die virus wat Suid-Afrika se ekonomie terminaal siek gemaak het, se naam is ANC, nie Covid-19 nie. Die simptome was jarelange wanbestuur en stroping van die fiskus. Dit het die land magteloos en met geen reserwes gelaat vir die onvoorsiene krisis wat die ekonomie toe wel getref het nie.

Nog meer skreiend is dat selfs die kritieke fondse wat vir die bestuur van die pandemie bewillig is om mense in hierdie tyd van die uiterste nood te help, nou ook gestroop word.

Die huidige begroting en die fiskale raamwerk waarop dit gegrond is, was van die begin ondeurdag en onuitvoerbaar, selfs voordat daar sprake was van Covid-19. Die begroting is so swak dat dit in geen stadium met enige erns bejeën kan word nie.

Dit het nie rekening gehou met enige onvoorsiene krisis wat die ekonomie kon tref nie. Dit het nie voorsiening gemaak vir die moontlike effek van Covid-19 toe die pandemie reeds die wêreld se ekonomie begin raak het nie. Ook nie vir die moontlikheid van fiskale afgradering wat toe wel gerealiseer het nie.

Noudat krisisbestuur toegepas moet word, word geskarrel oor skole wat nie infrastruktuur soos water of toilette het nie. Broodnodige geld word nogmaals vermors op staatsentiteite wat eintlik niks anders as ʼn middel tot stroping geword het nie.

Geen lewe in die land maak vir die ANC saak nie, buiten dié van kaders. Nie swart of wit nie. Dit is ten toon gestel met die huidige totaal irrasionele Covid-19-inperkingsregulasies.

Dit het opnuut gewys die ANC is nie in staat om te bestuur nie. Nie die land, nie sy provinsies, munisipaliteite, departemente, die ekonomie of ʼn pandemie nie. Alles word wanbestuur.

Vir die ANC is ‘n reeds mislukte ideologie soos sy nasionaal demokratiese revolusie belangriker as die land se ekonomie en sy mense. Suid-Afrika se mense is vir 26 jaar in die steek gelaat.

Die ANC-regering het in die proses veral die jeug van die land gefaal. Hy kan hom nie meer roem op 1976 nie. Werkloosheid is die bewys hiervan.

Die tragedie van die huidige ekonomiese en fiskale situasie in Suid-Afrika is dat geen begroting die land kan red solank as wat ʼn virus met die naam ANC alles om hom infekteer nie.

• Die VF Plus het vandag teen al die begrotingsposte gestem aangesien die totale begroting ontoereikend en onhaalbaar is.


Navrae: 082 674 6670

WouterWesselsEkonomieANCBegroting2020#Covid19SouthAfricaBegrotingswetsontwerp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!