Bedrog, foute en oponthoude by die WVF kwel

2020-07-03
Heloïse Denner

Oponthoude met betalings, beweerde bedrog, ‘n ontoereikende stelsel en foute by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is kommerwekkend en veroorsaak toenemend meer probleme wat daartoe aanleiding gee dat werknemers se eise nie spoedig verwerk en betaal kan word nie.

Die WVF het Vrydag op versoek van die VF Plus voor die portefeuljekomitee oor arbeid verskyn om vrae oor hierdie netelige kwessies te beantwoord.

Die WVF is veronderstel om tydens die huidige krisis as gevolg van Covid-19 'n kardinale rol te speel met uitbetalings aan maatskappye wat nie kan bekostig om hul werknemers se salarisse te betaal nie.

Die WVF het gedurende die voorlegging aan die komitee verduidelik hoe hulle bedrog en korrupsie met die TERS-noodfonds probeer bekamp. Dit is egter duidelik dat baie van hierdie meganismes te laat in plek gestel is en dat die fonds nie antwoorde het oor uitstaande eise nie.

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, weier ook om vrae te beantwoord oor gerugte dat sowat een miljoen werknemers se betalings ter waarde van R4,2 miljard steeds uitstaande is weens ‘n reeks tegniese foute.

Eisers, wat werknemers en werkgewers insluit, se profiele met private inligting is ook onlangs weens nog ‘n sogenaamde tegniese fout op die stelsel beskikbaar gestel. Die bekendmaking van sodanige privaat-inligting maak die deur oop vir verdere bedrog en korrupsie.

Die WVF het sekere kontroles in plek gestel om bedrog te bekamp, maar voor die hand liggende kontroles soos die funksionaliteit van die TERS-stelsel om bankrekeninge van begunstigdes te verifieer, is egter eers onlangs ingestel.

Bevestigde bedrog van sowat R5,7 miljoen is onlangs geïdentifiseer nadat ‘n werknemer van ‘n maatskappy se persoonlike bankbesonderhede as die maatskappy s’n op die maatskappy se WVF-profiel aangedui is. Indien die fonds daartoe in staat was om bankbesonderhede behoorlik te verifieer, sou hierdie probleem nie ontstaan het nie.

Probleme en oponthoude met betrekking tot gewone WVF-betalings, soos vir kraamverlof en ongeskiktheid, is weereens onder die fonds se aandag gebring.

Die VF Plus sal voortgaan met volgehoue druk om uitstaande eise by die WVF aan te spreek.


Navrae: 072 ‪997 8315

 

 

ArbeidHeloiseDenner#Covid19SouthAfricaWVFWVFTers

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!