ANC verwerp VF Plus-mosie vir vaardigheidsoudit in Vrystaat

2022-11-22
Armand Cloete

Dit is geen verrassing dat die ANC in die Vrystaatse wetgewer teen ʼn mosie van die VF Plus gestem het om ʼn vaardigheidsoudit uit te voer op alle senior bestuurders in die provinsiale regering nie.

Die ANC het die mosie afgekeur en gestem teen deursigtigheid en het sodoende weereens gewys dat hy ten alle koste sy kaders en vriende sal beskerm.

Die waarnemende minister van staatsdiens en administrasie, Thulas Nxesi, het in Augustus 2022 op ʼn parlementêre vraag bevestig dat 94 senior bestuurders in die Vrystaat nie oor die nodige kwalifikasies beskik soos vereis vir die poste wat hulle beklee nie.

Uit sy antwoord blyk dit dat die provinsiale departement van landbou die grootste sondebok is met 16 senior bestuurders wat nie oor die vereiste kwalifikasies beskik nie.

Die departement van onderwys is tweede met 14 senior bestuurders gevolg deur die departement van gesondheid met 13.

Die kantoor van die premier self sit met sewe senior bestuurders sonder die nodige kwalifikasies.

Die VF Plus wou met die mosie druk plaas op die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, om toe te sien dat korrek-gekwalifiseerde senior bestuurders aangestel word om dienslewering aan inwoners te verbeter.

Die VF Plus sal die openbare dienstekommissie versoek om ondersoek in te stel na die oënskynlike gebrek aan kwalifikasies in die Vrystaatse regering

Die ANC sal duidelik nooit afstand doen van sy uitgediende ideologieë van regstellende aksie en kaderontplooiing nie. Dit ten koste van die Vrystaat se inwoners.

Die VF Plus is ook bekommerd oor die toenemende, groeiende koste van indiensneming op die openbare sektor se loonrekening die afgelope twee dekades. Dit geld ook die impak daarvan op die land se finansies en waarde vir geld as beginsel.

Die inwoners van die Vrystaat verdien beter as die ANC.

ArmandCloeteVrystaat#vaardigheidsoudit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!