ANC-twiste laat dienslewering in Matlosana in duie stort

2019-08-13
Ronnie Horn

ANC-binnegevegte is besig om dienslewering in duie te laat stort in Matlosana (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) en het daartoe gelei dat ʼn geskeduleerde raadsvergadering van die munisipaliteit vandag afgelas moes word weens die afwesigheid van ANC-raadslede.

Net die ANC-burgemeester, Maetu Kgaile, het opgedaag vir die vergadering.

Dit volg op ‘n soortgelyke voorval op 30 Julie 2019 toe die ANC se raadslede geweier het om die raadsaal te betree om sodoende te verhinder dat ‘n kworum gevorm word. Beide die vergaderings was geskeduleer om antwoorde te vind op dringende diensleweringskwessies.

Hierdie voortslepende binnegevegte van die ANC is een van die hoofoorsake dat dienslewering in Matlosana in duie stort. Dienste kom tot stilstand omdat besluitneming in die raad verlam word.

Die ANC-leierskap moet dringend ingryp en hul raadslede dissiplineer sodat dienste gelewer kan word.

Hierdie is een voorbeeld waar die regering van vandag nie die skuld op apartheid kan pak vir swak diens nie. Die ANC is self die oorsaak van die probleme.


Kontaknommer: 084 872 4300

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!