Die ANC-regering het Suid-Afrika op vele terreine agteruit laat boer oor die laaste twintig jaar terwyl die organisasie self agteruit gegaan het wat mense-kapitaal op die gebied van leierskap aanbetref, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder het vandag by Unisa in Pretoria gepraat by ‘n nasionale konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Politieke Studies (SAVPS) met die tema: ‘SA Democracy at 20: Diagnosis and Prognosis” en het gesê die land se beeld het na binne en buite skade opgedoen onder die ANC.
Volgens dr Mulder, wat gepraat het oor sy waarnemings die afgelope twee dekades, het veral die parlement se rol verwater teenoor die toenemende invloed wat die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis, oor landsake het.
“Die parlement het in 1994 ’n baie prominente rol gespeel as die politieke sentrum van die land. Alle media-aankondigings, debatte, ensovoorts het daar plaasgevind.
“In 2014 is my indruk dat die ANC die parlement se rol baie afgeskaal het en dit word nou soos ‘n rubberstempel van die ANC en meer spesifiek van Luthuli-huis. ‘n Voorbeeld is dat belangrike media-aankondigings nou vanuit Pretoria gedoen word en nie meer in die parlement nie.
“Dit is ook duidelik dat die ANC se A-span van 1994 nie meer in die parlement is. Van die 400 parlementslede van 1994 is daar net 12 oor. Die ANC se topmense is weggerokkel na die sakewêreld en in die staatsdiens en ander plekke ontplooi.
“’n Tweede waarneming is dat die skeiding van magte tussen die uitvoerende- en wetgewende gesag na 20 jaar net ‘n teorie geword het met die wetgewende gesag – die parlement – wat niks sal doen wat vir die uitvoerende gesag ‘n verleentheid mag veroorsaak nie. En Luthuli–huis bepaal wat by albei gebeur.
“Die beste voorbeeld hier is die verantwoordbaarheid van die president. Teoreties word die president deur alle parlementslede in die parlement verkies, maar in die praktyk is hy net verantwoordbaar aan die ANC.
“Toe Mbeki herroep is as president het die parlement geen rol daarin gespeel nie. Die parlement is totaal geïgnoreer. Alhoewel die parlement Mbeki verkies het, het hy geen beheer gehad oor sy afdanking nie,” sê dr. Mulder.
Oor Suid-Afrika se beeld na buite, sê hy in 1994 met pres. Nelson Mandela as Nobelpryswenner was Suid-Afrika se beeld in die wêreld die van kampioen van menseregte en die regering se buitelandse beleid was daarop geskoei.
“Die afgelope twintig jaar het ons grootliks wegbeweeg van die menseregtebenadering in ons buitelandse beleid.
“Dit kan gesien word in hoe ons dikwels in die VN gestem het met die sogenaamde muishonde van die wêreld. Die vraag is wat Mandela se regering byvoorbeeld sou doen oor die Dalai Lama. Ek glo hy sou hom hier toegelaat het. Nou weier ons omdat ons Sjina ter wille wil wees.
“Ten laaste, in twintig jaar het die ANC die staatsdiens getransformeer tot ‘n totale ondoeltreffendheid. Die vraag is wat die belangrikste is vir die staatsdiens; om ‘n diens aan die gemeenskap te lewer, of om getransformeer te wees.
“Die ANC het gekies om hom binne vyf jaar na bewindsoorname totaal te transformeer met die gevolg dat ons alle kundigheid en ervaring verloor het in die staatsdiens. Nou sit ons met ‘n getransformeerde staatsdiens wat nie kan diens lewer aan die land nie,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670