ANC-regering moet nou die ekonomie laat groei en nie ideologieë

2019-09-11
Jaco Mulder

Die Suid-Afrikaanse regering moet nou alles in die stryd werp om die land se ekonomie te laat groei en moet sy onwerkbare ideologiese beleidstukke opsy skuif.

Staatskaping, korrupsie, onteiening sonder vergoeding, voorgeskrewe bates, die Nasionale Kredietwysigingswet, suikerbelasting, Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) dra grootliks daartoe by dat sake-en beleggersvertroue in Suid Afrika op ‘n laagtepunt is.

Die land se ekonomie staan op die rand van ‘n afgrond met sakevertroue wat tot sy laagste vlak in twintig jaar getuimel het.

Volgens die Rand Merchant Bank (RMB) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se jongste sakevertroue-indeks is agt uit tien van die 1800 deelnemers aan die studie ontevrede met heersende saketoestande.

Die feit dat net een van vyf gemete sektore naamlik die motorbedryf gedurende die derde kwartaal ‘n verbetering kon toon, laat die rooi ligte flikker vir die Suid Afrikaanse handel.

Die regering sal ‘n nou of nooit-benadering moet volg of die wrang vrugte van ‘n mislukte staat en grootskaalse armoede pluk.


Kontaknommers: 082 466 3786 / 062 391 1804

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!