ANC-regering mik na totale beheer oor selfoonbedryf

2016-10-21
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering se plan om die huidige breëbandspektrum weg te neem van selfoon-operateurs vorm deel van die ANC se konsep van ʼn ontwikkelingstaat waar die staat markte beheer en self ook daaraan deelneem. Dit het die selfoonbedryf nou in sy volle omvang getref, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Av. Alberts sê nadat daar vir 21 jaar gestry is om die mark te dereguleer en kompetisie te laat gedy, wil die ANC nou weer totale beheer hê.

“Dit is ʼn doodgebore idee aangesien die ANC-regering geen bewyse het dat hy self kommersiële hulpbronne kan bestuur tot voordeel van die land en sy mense nie.

“ʼn Mens hoef net te kyk na die gemors waarin die meeste staatsbeheerde entiteite soos Eskom, Prasa en PetroSA is. Daar bestaan ʼn vermoede dat die regering se plan gebore is uit die motivering om weer aan die ANC se binnekring spektrum-lisensies uit te deel tot voordeel van die Zuma-kamp.

“Die blatante doelbewuste sekerheid om dit te doen kom waarskynlik uit die AgriSA-hofuitspraak oor mineralebronne waar die hulpbronne in die hande van staat as trustee geplaas is.

“Regstegnies kan die ANC dus argumenteer dat hierdie spektrum ʼn hulpbron is wat in trust by die staat moet lê en dit sodoende wegneem van bestaande operateurs sonder om ʼn sent vergoeding te betaal.

“Die ANC het juis so ʼn klousule probeer inglip in die eerste weergawe van die Onteieningswet rakende die bates van buitelandse beleggers.

“Dit is later na groot druk verwyder. So ʼn stap sal natuurlik ly tot groot verliese vir selfoon-operateurs en werkloosheid vererger.

“Die beste plan om breëbanddienste na almal uit te brei, veral na mense op die platteland, is om kompetisie toe te laat en bes moontlik ook belasting-aansporings te skep vir maatskappye wat hul netwerke uitbrei na minder gegoede gebiede.

“Vir die ANC om self als te bestuur gaan die program bloot in ʼn hartseer verhaal van mislukking laat eindig. Die ANC se rekord getuig hiervan,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!