ANC is verdelende faktor in Suid-Afrika

2022-05-12
Peter Marais

(Debat in Wes-Kaapse wetgewer: Die verbintenis tot 'n nie-rassige en verenigde SA)

Die VF Plus verbind homself om die Grondwet in sy geheel te handhaaf, maar dit is geen wondermiddel vir al ons politieke probleme nie.

Die regering se deurlopende pleidooi vir nie-rassigheid en ʼn verenigde Suid-Afrika is 'n bewys dat die ANC ná 28 jaar nie daarin kon slaag om die hart van die land se mense te wen nie.

Sportkwotas, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) om kaders te verryk en regstellende aksie (RA) wat sekere bevolkingsgroepe uitsluit van werksgeleenthede, skep woede en sosiale onmin.

Die VF Plus herinner die ANC graag aan wat sy vriend, Robert Mugabe, eens gesê het:

“Hoe oortuig jy die komende generasies dat onderwys die sleutel tot sukses is wanneer ons omring word deur arm mense met universiteitsgrade en ryk misdadigers?”

Is dit nie tans die geval met die Suid-Afrikaanse regering nie?

Luidens die Vryheidsmanifes wat deur alle bevolkingsgroepe aangeneem is, word die reg op onafhanklikheid en selfbestuur van almal in Afrika erken en sal dit die grondslag vir noue samewerking wees.

Dit erken sekerlik ook die reg van wit en bruin mense vir onafhanklikheid en selfbestuur en nie net swart mense sʼn nie.

Die VF Plus stem saam met oud-president Kwame Nkrumah van Ghana wat gesê het:

“Vryheid is nie iets wat een mens aan ʼn ander skenk nie. Mense eis dit as hul eie op en niemand mag hulle daarvan weerhou nie.”

Kom ons ondersteun dus die oproep vir ’n demokratiese vrye Kaap en red wat oorgebly het van ‘n eens welvarende Suid-Afrika.



RassismePeterMaraisWes-KaapSelfbeskikking

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!