Indien die ANC-regering erns het oor die SAUK-raad se totale minagting van die reg asook die uitspraak van die Openbare Beskermer (OB) rakende die posisie van die uitsaaier se nuut aangestelde korporatiewe hoof, Hlaudi Motsoeneng, sal hy summier met stappe moet begin om die raad te ontbind, sê Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.
Dr. Mulder sê die regering sal in hierdie opsig die lesse van die OB se uitsprake oor Nkandla en die Grondwethof se bevestiging van haar magte en bevoegdehede, ter harte moet neem.
Hy sê die verweer van prof. Obert Maguvhe, SAUK-raadsvoorsitter, dat geen hof bevind het Motsoeneng mag nie by die SAUK werk nie en dat die OB se bevinding met ‘n interne tugproses die verlede ongedaan gemaak kon word, is ‘n klap in die gesig van die portefeuljekomitee oor kommunikasie, en van elke persoon in Suid-Afrika wat in reg en orde glo.
“Prof. Maguvhe se uitlatings kan bloot nie uit onkunde wees nie, en dit dui daarom op die verstommende vermetelheid van die raad se onverklaarde en verbete verdediging van Motsoeneng.
“Die summiere bedanking van twee van die raadslede vandag, Krish Naidoo en Vusi Mavuso, is ‘n bewys van gebreke en probleme in die raad. Hoe ironies dat juis die twee lede wat integriteit oor die aangeleentheid gewys het, nie meer in die raad is nie.
“Die uitlating van Naidoo dat die raad wanfunksioneel is en geskrap moet word, som die situasie baie goed op,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403