ANC het plaaslike regering in Gauteng gebreek

2021-03-23
Me. Amanda de Lange

(Debat in Gauteng-wetgewer oor departement van samewerkende regering en tradisionele sake se 2019/20-jaarverslag)

Die VF Plus het die Gautengse ANC-regering daarvan beskuldig dat hy plaaslike regering in die provinsie gebreek het tydens die debat oor die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se 2019/20-finansiële jaarverslag.

Dit is weens die ANC se onvermoë om die portefeulje te bestuur en die LUR van die departement, Lebogang Maile, se fokus om eerder opposisielede name te noem dat dienslewering jaar na jaar agteruitgaan. Die gevolg is dat die inwoners uiteindelik self moet ingryp ten einde dienslewering moontlik te maak.

Dit lyk dus of dienslewering onder ANC-beheer al hoe meer geprivatiseer gaan word. Tans maak die publiek self paaie reg en samel fondse in om hof toe te gaan om dienslewering af te dwing of self infrastruktuur te herstel. Hierdie tendens sal net vergroot soos die ANC, ten spyte van beloftes tot die teendeel, ANC-beheerde plaaslike regerings oor die afgrond bestuur.

Intussen stel Maile net daarin belang om sy teenstanders name te noem terwyl hy telkens by die hof pak slae kry oor sy irrasionele besluite. Die plasing van Tshwane-metroraad onder administrasie is ‘n baie goeie voorbeeld in hierdie verband.

Selfs in koalisie-beheerde rade, soos die Tshwane-metroraad, ondermyn ANC-personeel dienslewering. Die koalisieregerings sal dus moet huis skoonmaak om goeie dienslewering in die toekoms te verseker.

Plaaslike regering sal net herstel wanneer die ANC uit mag gelig is in elke munisipaliteit in Gauteng.



GautengAmandaDeLangePlaaslikeRegering

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!