ANC het die vuur gestook van Eskom-fiasko wat land se ligte doof

2018-11-29
Wouter Wessels

Die goeie werk van die parlement se portefeuljekomitee oor staatskaping by Eskom is ʼn flonkering van lig in die andersins donker prentjie wat geskets word van omvangryke bedrog en korrupsie by die nasionale kragvoorsiener waarvan die ANC-regering op hoogste vlak betrokke was.

Beurtkrag wat tans ervaar word, is ʼn direkte uitvloeisel van die Eskom-fiasko wat die land se ekonomie geweldige skade berokken het.

Die vraag moet gevra word wat ʼn omgewing geskep het waarin bedrog en korrupsie kon floreer. Die antwoord is duidelik: ʼn Totale gebrek aan verantwoording, deursigtigheid en ʼn minagting vir wetsvoorskrifte en -regulasies met ʼn regering wat sienderoë toekyk.

Die Eskom-komitee se verslag skets ʼn gebrek aan politieke oorsig en ʼn onvermoë om bevoegde en bekwame persone op meriete aan te stel op die rade en bestuur van staatsbeheerde ondernemings soos Eskom. Dit moet ʼn les wees vir die toekoms.

Daar moet nou gevolge wees vir diegene wat hulle aan misdrywe skuldig gemaak het, en dit is daarom jammer dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolging gestaak het in die Vrede-suiwelprojeksaak. Brian Molefe en sy meelopers mag nie so maklik wegkom nie.

Die regering kan hom hoegenaamd nie roem op die werk van die Eskom-komitee of die Zondo-kommissie na staatskaping nie. Staatskaping het op die wagbeurt van die ANC-regering plaasgevind, met die betrokkenheid van senior ANC-ampsdraers en die stilswyende goedkeuring van die regerende party en sy volgelinge.

Die ANC moet die eerbare ding doen en vir eens verantwoordelikheid aanvaar vir sy aandeel daarin.

Die grond onder die ANC is aan die wegkalwe, en die VF Plus sal saam met die mense van Suid-Afrika bly terugslaan teen ʼn regering wat nie verdien om ná 2019 in beheer van die land se sake of die belastingbetaler se beursie te wees nie.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!