ANC-erkenning oor lugmag-vliegtuig: VF Plus sal met vrae aan betrokke ministers seker maak die skuldiges doen verantwoording

2020-09-15
Dr Pieter Groenewald

Die ANC het met sy bereidwilligheid om te betaal vir die lugmag-vlug na Zimbabwe erken dat hy misbruik gemaak het van weermagvervoer en die VF Plus het reeds vrae aan verskeie ministers hieroor gerig om seker te maak die skuldiges doen volle verantwoording.

Dié optrede van die ANC maak dit duidelik dat die regerende party vooraf geweet het van die beplande reis, maar steeds ‘n kans gewaag het om te kyk of hy daarmee kon wegkom.

Die VF Plus se leier (dr. Pieter Groenewald) sal onder meer ʼn volledig gespesifiseerde rekening oor die vlug versoek om te bepaal of alle koste vir die afvaardiging se reis wel betaal gaan word.

Om die antwoorde hierop te verkry, is geskrewe parlementêre vrae oor die koste reeds gerig aan die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

Benewens die koste-aspek, is die inperkingsmaatreëls rakende kwarantyn reeds verbreek en om nou byna sewe dae later in kwarantyn te gaan, is oëverblindery. Die VF Plus het ook in dié verband ‘n vraag gerig aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, om vas te stel of die lede van die afvaardiging vooraf toestemming vir die reis verkry het.

Die ANC is nie verhewe bo die reg om eers al die reëls te wil oortree en wanneer hy uitgevang word, hoogheilig te verklaar hy sal regmaak nie. Wanneer die wet oortree word, moet daar gevolge en vervolging wees, ook vir die ampsdraers van die ANC.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DrPieterGroenewaldANCZimbabweAceMagashuleLugmagvliegtuig

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!