ANC dwarsboom gereg met inmenging by strafregtelike ondersoeke na tenderbendes in Matlosana

2021-03-25
Mnr. Michal Groenewald

Die ANC in Noordwes se openlike inmenging by strafregtelike ondersoeke teen tenderbendes wat Matlosana (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeestfontein) reeds vir weke in chaos dompel, kom neer op dwarsboming van die gereg.

Ernstige strafregtelike klagte is reeds deur die munisipaliteit en gemeenskapslede by die polisie ingedien wat tans deur ‘n spesiale taakspan van die polisie ondersoek word. Klagte van sedisie, intimidasie, poging tot moord, aanranding, saakbeskadiging, brandstigting en die besit van onwettige vuurwapens is ingedien.

Ten spyte van die erns van die klagte, en die enorme skade wat hierdie tenderbendes reeds aan die munisipaliteit en die Matlosana-gemeenskap aangerig het, vind die ANC in Noordwes dit gepas om vergaderings met die bendeleiers te hou. Die gestelde doel van die vergaderings is om griewe aan te hoor.

Na al die geweld, ontwrigting, intimidasie en dreigemente wat munisipale amptenare en gemeenskapslede moes verduur, is die ANC se optrede absurd en ‘n totale minagting van geregtigheid en die belange van die gemeenskap. Vergaderings met mense wat openlik geweld aanstig dien geen doel nie.

Die VF Plus eis dat arrestasies uitgevoer word en die skuldiges met die volle mag van die gereg tot orde gebring word.

Inwoners van Matlosana kan tereg nou vra wat die verbintenis tussen die tenderbendes en die ANC is dat die ANC homself verplig voel om met hulle te vergader.

Dit is inderdaad ‘n onheilspellende verwikkeling en ‘n kwade dag as die ANC homself nou al so openlik aan die kant van anargiste en beweerde misdadigers skaar.

Die ontwrigting van munisipaliteite en plaaslike ekonomieë deur tenderbendes is landwyd besig om toe te neem en hou ‘n wesenlike bedreiging in vir die land.

Gemeenskappe kan nie langer gyselaar gehou word deur sulke misdadige optrede nie. Veral kommerwekkend is ook gereelde berigte van die betrokkenheid van politici by sulke optrede waarvan die situasie tans in Matlosana skynbaar ‘n voorbeeld is.

Die VF Plus gaan die polisie versoek om as ‘n prioriteit ‘n spesialis-eenheid vir bendegeweld vir landelike gebiede te stig om hierdie tendens hok te slaan. Sulke eenhede is reeds in stede ontplooi, maar die toename in bendegeweld op die platteland noodsaak nou die uitbreiding daarvan.

 

MichalGroenewaldMatlosanaTenderbendes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!