ANC: Die energie ontbreek om Suid-Afrika in stand te hou

2021-10-26
Dr. Wynand Boshoff

Die huidige vlaag van beurtkrag laat opnuut die vraag ontstaan of die ANC oor die energie beskik om Suid-Afrika die toekoms in te neem.

Om Suid-Afrika met al sy verskeidenheid as 'n gesentraliseerde eenheidstaat te regeer, verg nie alleen leierskap met energie nie, maar ook die soort energie wat die wiele letterlik laat draai en 'n land met kragdrade aanmekaar bind.

Eskom se onvermoë om genoeg elektrisiteit vir die Suid-Afrikaanse ekonomie te verskaf, is alombekend. Minder mense is daarvan bewus dat Suid-Afrika se vermoë om ru-olie tot petrol, diesel en vliegtuigbrandstof te verwerk, bykans tot niet is. Die groot meerderheid van Suid-Afrikaanse petroleumprodukte word in die voltooide vorm ingevoer. Dit verhoog die land se kwesbaarheid vir internasionale prys- en politieke onstabiliteit en nog meer.

Die geskiedenis van energievoorsiening in Suid-Afrika is met die ontginning van steenkool verweef. Terwyl die land nie oor ru-olie beskik nie, is steenkool volop. Daarom is Eskom in 1923 geskep om deur middel van steenkoolkragsentrales elektrisiteit vir die ontluikende Suid-Afrikaanse ekonomie te verskaf.

Hoewel elektriese motorvervoer aan die begin van die vorige eeu belowend gelyk het, het die binnebrandenjin mettertyd die toneel totaal oorheers, sodat Suid-Afrika al hoe meer afhanklik van ingevoerde petroleumprodukte geword het. Raffinaderye in Kaapstad en Durban het ontwikkel, wat aan daardie behoefte moes voorsien. Hoewel private maatskappye die raffinaderye ontwikkel het, was dit deel van 'n omvattende, staatsondersteunde energiebeleid.

Sedert Sasol in 1950 opgerig is, was sy taak om steenkool in vloeibare brandstof te omskep. Die Fischer-Tropschmetode om dit te doen was reeds bewese tegnologie, maar nie noodwendig ekonomies kompeterend nie. Nogtans het dié maatskappy voortgegaan om die hele waardeketting van steenkool te ontsluit. Kunsmis, kerswas en asfalt om paaie te bou is maar enkele produkte wat Suid-Afrika te danke hieraan self kon produseer. Vandag is Sasol se raffinaderye die enigste in Suid-Afrika wat aan hedendaagse standaarde voldoen.

Teen die middel van die jare tagtig was Eskom en Sasol albei wêreldklasmaatskappye. Sasol is geprivatiseer en Eskom het in staatsbesit gebly. Na 1994 is twee gans verskillende trajekte gevolg: Sasol het steeds vernuwe en uitgebrei, maar Eskom was die slagoffer van ontplooide kaders se plundering van staatsbates.

Omgewingsfaktore maak steenkoolverbranding toenemend onaanvaarbaar. Indien dit die rede vir die verwaarlosing van Eskom was, was dit verstaanbaar.

Indien die gevolg 'n beleid van hernubare energie, produksie van groen waterstof en 'n totaal nuwe vervoerinfrastruktuur was, was dit hoog aan te beveel. Beurtkrag kon 'n oorgangskrisis van veel korter duur gewees het.

Die werklikheid is dat verbeeldingryke projekte van dié aard met min hulpbronne moes klaarkom. Terwyl die baanbrekers op die gebied van waterstofgegronde brandstof, HySA, 'n goed befondsde vlagskip van die departement van energie moes wees, is dit een van die kleinste staatsondernemings en ressorteer dit onder die departement van wetenskap en innovasie. Miskien is dit 'n bedekte seën, aangesien dié departement betreklik goed bestuur word.

Munisipaliteite beslaan 'n groot deel van die land se energiemark. Daarom kan hulle gedeeltelik vir die sentrale staat se versuim instaan. Maar dan sal kiesers op 1 November moet opstaan, sterkstaan en saamstaan om dieselfde ANC wat vir Suid-Afrika 'n energiekrisis gebring het, uit munisipale regering te stem.

 

 

DrWynandBoshoffEskomBeurtkragSasol

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!