Akademia se nuwe fakulteit vir opvoedkunde: So word Afrikaans se hoër funksies verseker

2021-10-05
Dr. Wynand Boshoff

Die private hoër onderwysinstelling, Akademia, het sy toewyding tot die toekoms van Afrikaans getoon deur gister 'n fakulteit vir opvoedkunde bekend te stel.

Niks toon vertroue in die toekoms soos om in die opvoeding van volgende geslagte te belê nie. Die Vryheidsfront Plus wens Akademia geluk toe met die groot stap en spreek die vertroue uit dat die fakulteit nog waardevolle diens sal lewer.

Akademia is meer as net 'n inisiatief uit die private sektor. Terwyl daar talle private instellings vir hoër onderwys is wat met 'n primêre fokus op wins tot stand gebring word, is Akademia 'n geloofsdaad op die Afrikaanse kultuurakker.

Hoewel dit winsgewend bedryf moet word om lewensvatbaar te wees, is dit 'n sekondêre doel.

Die dekaan van die nuwe fakulteit, prof. Gawie du Toit, het reeds diep spore in opvoedkunde-kringe getrap. Hy was professor aan die Universiteit van die Vrystaat, van waar hy na die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley vertrek het om dieselfde fakulteit daar tot stand te bring. Sy betrokkenheid by Akademia verleen verdere statuur aan dié groot onderneming.

Funksieverlies, veral in hoër onderwys, is sedert 1994 aan die orde van die dag. Onder die voorwendsel dat alle inheemse tale gelyk behandel moet word en dat Afrikaans eers moet "terugstaan" tot ander inheemse tale dieselfde vlak van akademiese ontwikkeling bereik, word Engels toenemend die enigste akademiese taal in Suid-Afrika.

Diegene vir wie Afrikaans belangrik is, moet deeglik kennis neem van die breër raamwerk waarbinne hulle beweeg. Langtermynbeplanning vir Afrikaans as universiteitstaal moet gedoen word, terwyl agteruitgang van die taal aan openbare universiteite gestuit word.

Die VF Plus doen intussen alles moontlik om die omgewing vir instansies soos Akademia te verbeter. So is onverbiddelik standpunt ingeneem teen die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, se siening dat private instellings van hoër onderrig onder dieselfde taalbeleid as openbare universiteite moet val.

Verder moet private instellings wat aan die vereistes voldoen, toegelaat word om universiteite genoem te word. Hulle moet ook die titel van professor aan akademici wat dit verdien, kan toeken. Die VF Plus het in die parlement vir al hierdie regte opgestaan en sal daarmee voortgaan.


 

DrWynandBoshoffAfrikaansHoërOnderwysAkademia

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!