Agterstand in DNS-toetse faal vroue en kinders van Suid-Afrika

2021-08-24
Dr Pieter Groenewald

In vandag se parlementêre portefeuljekomitee vir polisie is bekend gemaak dat die agterstand met die toetsing van DNS-monsters en ander forensiese materiaal wat ter sprake is in sake van geslagsgegronde geweld, tans staan op 90 201.

Dit het skerp toegeneem sedert 15 Mei vanjaar met die komitee se besoek aan die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria toe die agterstand vir monsters van hierdie soort misdaad 68 235 was. Die agterstand het in net meer as drie maande toegeneem met 21 266.

Dit het gebeur nadat die minister van polisie, Bheki Cele, in Maart vanjaar erken het dat daar in daardie stadium geen chemikalieë in enige polisie-laboratorium in die land was om DNS-monsters te toets nie.

Indien hierdie forensiese monsters nie beskikbaar is vir hofsake nie, beteken dit dat misdadigers soos verkragters vryelik rondloop en selfs vrygespreek kan word aangesien die bewysstukke wat nodig is vir ’n skuldigbevinding in hierdie soort sake, nie beskikbaar is nie.

Die uiteinde is dat vroue en kinders wat die slagoffers is van verkragting, uitgelewer is aan misdadigers en dat die strafsregstelsel hulle faal.

Dit help nie pres. Cyril Ramaphosa het mooi woorde en beloftes in die parlement oor die stryd teen geslagsgeweld en dat vroue en kinders beskerm moet word terwyl die agterstand by sy polisiemag se forensiese afdeling net al hoe groter word nie.

Die president sal daadwerklik moet ingryp om seker te maak dat die agterstand verwerk word om te wys dat hy nie net lippediens lewer aan die vroue en kinders van Suid-Afrika nie.

Die probleme by die polisie se forensiese laboratoriums is lank reeds bekend en onder bespreking. Tog word daar oënskynlik niks gedoen om dit reg te stel nie en die situasie is net besig om te vererger.

Met die portefeuljekomitee se besoek op 15 Mei is daar aan die lede van die komitee gesê dat selfs al sou die laboratoriums teen die begin van Julie vanjaar ten volle operasioneel wees, sou dit nogtans agtien maande neem om die agterstand te verwerk.

Nou is die laboratoriums steeds nie funksioneel nie en die agterstand is veel groter as op 15 Mei en neem daagliks toe. Met hierdie toename kan die agterstand twee tot drie jaar neem om uit te wis.

Die slagoffers van verkragting sal jare moet wag voordat hul sake met die nodige bewysstukke kan voortgaan. Dit is onaanvaarbaar dat die president blote lippediens lewer terwyl die situasie so agteruit gaan. Hy sal self moet ingryp om die situasie reg te stel.



 

PolisieDrPieterGroenewaldGeslagsgeweldDNS-toetse

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!