Afrikaans in eksamenvraestelle: ‘n Goeie geskiedenisles kan Cosas net goed doen

2020-08-20
Dr. Wynand Boshoff

'n Goeie geskiedenisles is wat Cosas, die ANC-gesinde studente-organisasie, nodig het. Dit blyk uit 'n onlangse verklaring waarin hulle tereg opmerk dat skoliere wat byvoorbeeld wiskundevraestelle in hul moedertaal kan antwoord, 'n merkbare voorsprong bo ander het. Indien Cosas 'n begrip van die geskiedenis van moedertaalonderrig in Suid-Afrika gehad het, sou hulle minder vrymoedig met hul standpunt gewees het.

Cosas eis eers om te verneem waarom wiskundevraestelle steeds die keuse bevat om in Engels geskryf te word. Die hindernis vir leerlinge wat die vrae eers na die moedertaal moet vertaal voordat hulle eens 'n poging kan aanwend om dit te antwoord, word uitgelig.

Dan eis hulle die skrapping van Afrikaans as 'n opsie vir beantwoording of instruksies in matriekvraestelle. Die studente-organisasie gee die departement tien dae om te reageer, anders word met optrede gedreig.

Wat Cosas duidelik nie weet nie, is dat moedertaalonderrig 'n hoeksteen van die gewraakte "Bantoe-onderwys" was. Sterk weerstand is hierteen gebied, omdat ouers Engels as die taal van opwaartse mobiliteit beskou is.

Die implementering van moedertaalonderrig is uit sekere oorde as 'n vorm van "verdeel en heers" beskou. Dit was deel van die narratief dat "Bantoe-onderwys" bedoel was om swartmense vooruitgang te misgun.
So gou as wat Transkei byvoorbeeld in 1963 selfregering verwerf het, is moedertaalonderrig afgeskaf.

Afrikaanse moedertaalonderrig, daarenteen, was deel van 'n omvattende kultuurstryd. Dit het soms verbete ywer van ouergemeenskappe en akademici geverg om 'n onwillige regering te oortuig dat Afrikaans as onderrigtaal lewensvatbaar is. Dit is juis waarom Afrikaanssprekendes uiters onwillig is om daardie reg, wat swaar verwerf is, prys te gee.

Uiteindelik vertoon die verklaring wat Cosas uitgereik het, een van die sentrale swakhede van die onderwysbedeling na 1994: Pleks dat ander Afrikatale ontwikkel word om met Afrikaans en Engels kers vas te hou, word Afrikaans afgetakel.

Navrae: 074 166 5540

 

 

DrWynandBoshoffAfrikaansEngelsmoedertaalonderrigCosas

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!